Die VF Plus het vandag tydens ‘n sitting van die nasionale raad van provinsies (NRP), daarop aangedring dat polisiekantore landwyd behoorlik toegerus word om tydig en doeltreffend op te tree teen misdadige elemente wat onder die vaandel van diensleweringsproteste gemeenskappe toenemend ontwrig.
Nét in Noordwes is die gemeenskappe van Orkney en Zeerust die afgelope week tot stilstand gedwing deur onder meer taxi-verenigings wat hoofroetes na die dorpe versper het.
Hierdie optrede ontaard gereeld in geweld en die grootskaalse beskadiging van kritieke infrastruktuur.
Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie soort onwettige optrede die afgelope jare die norm geword het, en dat geen ag meer geslaan word op die wetlike prosedures waarin voorsiening gemaak word vir ordelike protesoptredes waar gemeenskappe se regte en belange ook beskerm word nie.
Tog word daar selde, indien ooit, teen die aanstigters van sulke misdadige optrede opgetree.
Dit blyk dat die belange van wetsoortreders bó die van wetsgehoorsame Suid-Afrikaners gestel word. Dit is totaal onaanvaarbaar.
Met die afsper van die toegangsroetes na Zeerust vandag, is onder meer die N4-hoofweg onbegaanbaar gemaak en matrikulante is verhinder om eksamen af te lê.
Die vervoer van handelsware na en van Botswana is afgesny, werknemers kon nie hul werkplek bereik nie en plaaslike ondernemings se sake is vir die soveelste keer ontwrig.
Die skade aan die plaaslike en nasionale ekonomie is enorm en die skade aan die toekoms van die matrikulante onberekenbaar.
Dit is tyd dat die ANC-regering en die owerhede deur ferm optrede, vir eens en altyd ‘n duidelike boodskap uitstuur dat Suid-Afrikaners se regte en belange swaarder weeg as dié van misdadige elemente wat net hul eie belange najaag.
Suid-Afrikaners verdien beter as die ANC.
Navrae: 079 885 1135