Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het in antwoord op 'n vraag van die VF Plus tydens vandag se wetgewersitting waarom sy beplande Gautengse staatsbank nie ook sal eindig soos VBS nie, eenvoudig die vraag ontwyk deur te antwoord dat dit 'n verkeerde vraag is.
Hy het verder gesê dat daar eerder gevra moet word waarom die staatsbank nie soos Standard Bank en ander groot banke gaan wees nie. Sy logika is dat die kommersiële banke nie vir arm mense behoorlike bankdienste, veral in die vorm van lenings, verskaf nie.
Dit is wel insiggewend dat Lesufi nie die VBS-vraag wou beantwoord nie aangesien die VBS-bankskandaal groot skade aangerig het aan talle swart armes en dat dit juis Lesufi se vorige departement van onderwys was wat naas die departement van gesondheid die grootste Covid-19-bedrog in die land gepleeg het.
Die VF Plus vind dit uiters kommerwekkend dat voorsorg vanuit lesse geleer weens die VBS-skandaal nie 'n prioriteit is nie.
Lesufi het verder aangedui dat die Gautengse staatsbank nog in wording is en dat heelwat navorsing gedoen moet word rakende die moontlikheid om so 'n bank wettiglik te skep.
Die VF Plus het in 'n opvolgvraag voorgestel dat daar eerder na koöperatiewe banke gekyk word wat deur gemeenskappe besit word en dat in plaas van 'n staatsbank, gemeenskappe eerder gehelp word om dié soort banke op te rig.
Lesufi het daarop gereageer dat daar wel ook gekyk kan word na koöperatiewe banke, maar dat hy nog steeds 'n staatsbank as belangrik beskou.
Hierdie antwoord is in lyn met die ANC se irrasionele geloof dat die staat alle sosiale probleme suksesvol kan aanspreek, maar wat in die afgelope bykans 30 jaar oor en oor verkeerd bewys is.
Die voorbeelde is legio, maar mens hoef net na die status van die regering se eie besigheidsinstelling te kyk soos die SAL, ACSA, Alexkor, die Poskantoor, Denel, Eskom en die Landbank.
Die VF Plus sal die verwikkelinge rondom die skep van 'n Gautengse staatsbank fyn dophou vir enige onreëlmatighede en ook druk plaas op die provinsiale regering om eerder koöperatiewe banke te ondersteun.


