fbpx
Vryheidsfront Plus

Lesufi se registrasiestelsel in werklikheid bedoel om Afrikaans te vernietig: VF Plus-klag aan OB

Die VF Plus het vandag ‘n klag by die openbare beskermer (OB) ingedien wat dui op sinistere motiewe agter die sentrale aanlynregistrasiestelsel van die Gautengse onderwysdepartement onder LUR Panyaza Lesufi met die uitsluitlike doel om Afrikaans in skole in dié provinsie te vernietig.

(Sien die volledige aangehegte klag van die VF Plus aan die OB hiernaas).

Die stelsel is duidelik ‘n ideologies gekonseptualiseerde poging van Lesufi om sy departement se mislukkings te probeer verdoesel waaroor die VF Plus onlangs breedvoerig in mediaverklarings gerapporteer het.

Die belangrikste van die mislukkings is die departement se onvermoë of beplande onwilligheid om sy begroting aan te wend om skole te bou.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat die departement R1,2 miljard onreëlmatig bestee het in die 2018/2019-boekjaar. Dit hou verband met die toekenning van tenders vir ‘n skoolvoedingsprojek wat in Desember 2016 toegeken is en eers oor twee maande verstryk. Daarbenewens het die departement in die vorige boekjaar meer as ‘n miljard rand onderbestee.

Die netto-effek hiervan is dat reeds vol Afrikaanse skole gedwing word om anderstalige leerlinge in te neem omdat hulle nie ‘n ander heenkome het nie.

Nadat ‘n hofuitspraak oor die geval van die Hoërskool Overvaal ‘n stokkie hiervoor gesteek het, sal die aanlynregistrasiestelsel daarom steeds Lesufi se planne vir die vernietiging van Afrikaanse skole kan deurvoer.

In die VF Plus se klag aan die OB word onder meer aangevoer dat die algoritme vir die stelsel se sagteware só geskryf is dat dit Afrikaanssprekende leerlinge doelbewus in Engelse skole plaas om sodoende plek te maak vir anderstalige leerlinge in Afrikaanse skole.

Die VF Plus is van mening dat die vergrype van só ‘n ernstige aard is dat dit strafregtelike ondersoeke regverdig en die OB word in die klag gevra om hieroor uitsluitsel te gee.

LUR Lesufi se openlike vyandigheid teen Afrikaans en Afrikaanse skole is lank reeds duidelik en dit het tyd geraak dat die ANC teen hom optree. Aan die een kant bepleit president Cyril Ramaphosa samewerking en eenheid, maar aan die ander kant laat die regering iemand soos Lesufi toe om ‘n openlike geveg met die Afrikaanssprekende gemeenskap te voer.

Die VF Plus het nog altyd teen Lesufi se metodes opgestaan en sal aanhou om sy bedenklike optrede aan die groot klok te hang totdat hy deur ‘n bekwame persoon vervang word.

Kontaknommer: 082 391 3117

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.