Die implementering van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) het sy tol onder wit polisiemanne in Gauteng geëis.
Die Gautengse kommissaris van polisie, lt.genl. Elias Mawela, het onlangs statistiek bekendgemaak wat aandui dat daar minder as 9% wit polisielede in die provinsie is.
Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging word strenger toegepas en lei tot ‘n verlies van wit polisielede se kundigheid, vermoë en ervaring. Dié lede word verder benadeel wanneer hulle in die meeste gevalle oor die hoof gesien word vir bevordering.
Die streng toepassing van die beleid kan die polisiediens verder verswak en onbevoeg laat terwyl wit polisielede ongemotiveer is en die diens verlaat.
Die polisiediens het reeds ‘n lae bevoegdheid-prestasie met polisielede se wapenvaardigheid wat telkens onder die vergrootglas kom.
Die VF Plus versoek die polisie in Gauteng om ‘n Artikel 34-ondersoek te begin om so onbevoegde polisielede te identifiseer en hul dienskontrakte te beëindig.
Inwoners in Gauteng kan nie langer van ‘n sukkelende polisiediens afhanklik wees nie. Dit is tyd dat lt.genl. Mawela die sweep klap en sorg dat polisielede behoorlik opgelei is om misdaad in die provinsie drasties te verlaag en wet en orde te handhaaf.
Kontaknommer: 066 010 1066