Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Lesufi moet boet vir boelie-gedrag teen Afrikaanse gesin ná rasse-voorval by Hoërskool Jan Viljoen

Die VF Plus sal toesien dat Panyaza Lesufi, tans premier van Gauteng, boet vir sy boeliegedrag teenoor ‘n Afrikaanse gesin tydens ‘n rassevoorval op 11 Februarie verlede jaar by die Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein.

Die party het die Oosthuizen-gesin, wat wesenlik benadeel is nadat Lesufi hulle valslik van rassisme beskuldig het, reeds bygestaan deur ‘n onafhanklike regspan te reël om siviele eise teen Lesufi persoonlik, asook die Gautengse onderwysdepartement in te stel.

Rapport het die afgelope naweek breedvoerig berig oor die hel waardeur die gesin gegaan het weens Lesufi se beskuldigings (Lesufi se vals ras-klag het ons lewe verwoes: 13 Augustus 2023)

Leerders, onder wie talle met EFF-bande wat “Kill the boer, kill the farmer” by die skool gesing het, was op dié betrokke dag in botsing met mekaar en met onderwysers. Dit het uitgekring tot wrywing tussen die wit en swart skoolgemeenskappe.

Luidens die berig het Lesufi die toenmalige onderhoofseun, Rocco Oosthuizen, asook sy ma Lizaan wat by die skool gewerk het, openlik van rassisme beskuldig. Rocco is selfs met die dood gedreig deur lede van die gemeenskap.

Lesufi het die Oosthuizens gedreig dat hy sou toesien dat die MRK hul “rassistiese optrede” ondersoek. Dit is op video opgeneem.

Die druk van alle kante het só erg geraak dat die gesin gedwing is om uit Randfontein te vlug. Mev. Oosthuizen het haar werk verloor deurdat die skool haar aangesê het om “vir haar eie veiligheid” nie terug te keer nie.

Rocco was sy posisie as onderhoofseun met ‘n volle beurs kwyt en het gesukkel om ‘n skool te vind wat hom wou inneem weens die smet van rassisme wat Lesufi se vals bewerings geskep het.

Die VF Plus het ná die voorval self ‘n ondersoek gedoen en het besluit om die Oosthuizen-gesin by te staan nadat dit duidelik was dat die beskuldigings onwaar was.

Ek het as die VF Plus se nasionale voorsitter en Gautengse LPW eerstens vir mev. Oosthuizen bygestaan in ‘n arbeidsaak teen die skool aangesien die optrede teen haar neergekom het op onbillike ontslag. Die skool het daarna met haar geskik.

‘n Onafhanklike verslag wat die skool aangevra het en deur die Gautengse onderwysdepartement aanvaar is, het later gewys die voorval is aangestig deur EFF-leerders. Die verslag het aanbeveel dat hulle geskors word, maar dit het nie gebeur nie.

Die menseregtekommissie (MRK) het eindelik geen finale uitslag gelewer nie aangesien niemand na vore gekom het om teen die Oosthuizens te getuig nie. Die Oosthuizens het wel deur die VF Plus klagtes ingedien teen Lesufi en die Gautengse onderwysdepartement.

Die MRK se ondersoek is as onbeslis gesluit. In die sluitingsverslag is wel bevind dat onder andere Rocco sonder ‘n behoorlike proses geskors is.

Die tyd het aangebreek dat Lesufi aanspreeklik gehou word vir die skade wat hy veroorsaak. Hy is al by talle voorvalle betrek waar hy ‘n valse narratief van rassisme teen Afrikaners by skole geskep of vererger het.

Die Oosthuizens se regspan gaan nou ondersoek tot watter mate Lesufi persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir sy valse bewerings. Sy boelie-gedrag teenoor die Afrikaanse gemeenskap begin hom nou inhaal.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.