fbpx
Vryheidsfront Plus

Lesufi as verwagte nuwe Gautengse premier wys ANC skraap boom om goeie leiers te lewer

Die verwagte aanwysing van die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, as die nuwe premier van dié provinsie tydens ‘n wetgewersitting more, dui allerweë aan dat die ANC die boom skraap om goeie leiers te lewer.

Gegewe Lesufi se gebrek aan dienslewering in sy onderwys-portefeulje en sy gedurige rasse-oorlog op valse gronde teen die breë Afrikaanse skoolgemeenskap, sal sy premierskap ook gekenmerk word aan swak en verdelende leierskap wat tot die verdere verval van Gauteng sal lei.

Sy premierskap sal Gauteng in 'n moeras van rasse-konflik laat verval, die stotterende ekonomie verder vernietig en enige vorm van sosiale kohesie en samewerking tussen Gautengers tot 'n einde bring.

Lesufi se karakter as rasse-demagoog en sy bestuursrekord getuig daarvan dat hy nie die vermoë het om Gauteng na 'n beter toekoms te lei nie.

Sy rekord is gevul met gefaalde beleid en aksies: Van die verklaring van oorlog teen Afrikaanse skole wat gelei het tot die onrus by Hoërskool Overvaal en onlangs ook by Hoërskool Jan Viljoen, tot by die gebrek aan onderhoud van skole wat tot die Hoërskool Driehoek-tragedie gelei het.

So ook sy poging tot die sentralisering van voedselhulp tydens die Covid-19-grendelstaat en die uiteindelike enorme Covid-19-korrupsie in die departement van onderwys.

Lesufi se swak leierskap sal na verwagting die ANC se steun verder wegkalwe tot voordeel van die opposisie wat in 2024 moontlik 'n koalisieregering kan vorm.

Die ANC het verlede jaar tydens die munisipale verkiesing slegs 36% steun op hom gevestig. Indien die steunvlakke dieselfde bly in die 2024-verkiesing, sal die ANC nie eens met die hulp van die EFF 'n regering kan vorm nie.

Dit sal 'n welkome verligting wees, want dit is alombekend dat Lesufi baie na aan die EFF staan.

Die VF Plus het reeds 'n veldtog begin voorberei wat bekend staan as die "STOP LESUFI"-veldtog wat amptelik geloods sal word sodra Lesufi as die Gautengse premier aangewys word.

Die VF Plus wil met hierdie veldtog seker maak dat Lesufi en die ANC in Gauteng in die nasionale en provinsiale verkiesing van 2024 permanent na die opposisiebanke geregeleer word.

Die tyd vir 'n beter Gautengse regering en beter leierskap lê voor.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.