fbpx
Vryheidsfront Plus

Lephalale-rioolkrisis: VF Plus neem aksie en dien klag in by MRK

Jarelange rioolprobleme op Ellisras, een van die provinsie se grootste myndorpe, gaan oënskynlik ongesiens by die Lephalale-plaaslike munisipaliteit verby en die VF Plus het ’n klag hieroor by die menseregtekommissie (MRK) ingedien.

Daar is twee rioolsuiweringsaanlegte in Lephalale: Paarl- en Marapong.

Die Paarl-rioolsuiweringsaanleg is vyf jaar gelede opgegradeer, maar ’n gebrek aan voldoende vaardigheid en opleiding om die aanleg korrek te bestuur, het gelei tot die onvermoë om Ellisras, Onverwacht en Marapong se riool ten volle te suiwer.

Boonop is die meeste pompstasies buite werking wat veroorsaak dat riool gereeld terugstoot in woongebiede.

Die oorspronklike ontwerp vir die pompstasies was dat elke stasie ekstra pompe moet hê indien een onklaar raak. Dit is nie die geval nie.

‘n Gebrek aan voldoende kennis om die pompstelsels effektief te bedryf, dra ook grootliks by tot die rioolprobleem.

'n Ander probleem, die besoedeling van riviere in die omgewing, het sedertdien vererger.

Sodra die lading by die aanleg te veel raak, stroom onverwerkte riool uit die aanleg in ’n inwoner se grond.

Van daar loop dit in een van die provinsie se grootste riviere, die Mogolrivier, wat weer aansluit by die Limpoporivier.

‘n Pompstasie by Palm Park Hotel is gereeld buite werking en veroorsaak instromings van riool direk in die Mogolrivier wat langs dié hotel loop.

Verskeie nedersettings soos dié van Maropong gaan ook gebuk onder rioolprobleme.

Dit wil voorkom asof die Maropong-rioolsuiwersaanleg nog nooit ten volle in werking was nie.

Riool word net in ’n dam opgegaar waarna dit van vaste stowwe gesuiwer word en direk in die Sandrivier, 'n regterkantse sytak van die Limpoporivier, gepomp word.

Riviere in dié munisipale gebied word besoedel met onverwerkte riool en dit raak nedersettings, toerisme en boerderye wat van die water in die riviere afhanklik is.

Dit is duidelik dat hier ‘n omvattende ingryping noodsaaklik is om 'n ekologiese- en gesondheidsramp af te weer.

Dit lyk egter of die dreigende krisis die Lephalale-munisipaliteit nie pla nie.

Derhalwe versoek die party dat die MRK die probleem ondersoek.

Die VF Plus sal intussen voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om aandag aan die rioolprobleem te gee en sal gereeld skakel met die MRK om vordering met die saak te monitor.

Limpopo is ‘n waterskaars-provinsie en die ongebreidelde besoedeling van waterbronne en ’n ongesonde omgewing om in te woon kan nie toegelaat word nie.

Lephalale verdien beter as die ANC.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.