Die menseregtekommissie (MRK) se voorgenome regsaksie teen die ANC-beheerde Ngaka Modiri-distriksmunisipaliteit oor sy versuim om die rioolbesoedeling van die Maricorivier te voorkom, word verwelkom.
Die MRK het aan die VF Plus bevestig dat ‘n finale aanmaning aan die munisipaliteit gestuur is om teen 3 Mei ‘n volledige herstelplan van die rioolwerke by Groot Marico, met spesifieke tydlyne vir uitvoering, te verskaf.
Indien die munisipaliteit nie hieraan voldoen nie, sal die MRK regstappe teen die munisipaliteit en die verantwoordelike amptenare instel.
Hierdie stap volg nadat die VF Plus reeds in Maart 2021 klagte oor die besoedeling by die MRK ingedien het.
Die munisipaliteit het sedertdien, ten spyte van vele beloftes, nog geen doeltreffende stappe geneem om die rioolwerke te herstel nie.
Die besoedeling van die Maricorivier hou nie net ‘n gesondheidsgevaar vir die plaaslike gemeenskappe in nie, maar het ook ‘n negatiewe uitwerking op landboubedrywighede in die gebied.
Die Groot Marico bosveld-besproeiingskema word onder meer uit die rivier gevoed.
Hierdie voortslepende situasie belig weer die ANC se laksheid en minagting vir die belange en welvaart van plaaslike gemeenskappe.
Die VF Plus sal bly aandring daarop dat ANC-beheerde munisipaliteite aanspreeklik gehou word vir hul wanbestuur en die vernietiging van skaars natuurlike hulpbronne.
Die inwoners van Zeerust en Groot Marico verdien beter as die ANC.