fbpx
Vryheidsfront Plus

VF Plus lig internasionale gemeenskap in oor probleme van minderheidsgemeenskappe in Suid-Afrika

Die VF Plus het die afgelope naweek die geleentheid gekry om die internasionale gemeenskap opnuut in te lig oor die uitdagings wat die Afrikaner en ander minderhede in Suid-Afrika ervaar.

Die party (Tammy Breedt, VF Plus-LP) het ‘n algemene vergadering van die presidensie van Unpo in Barcelona, Spanje, bygewoon.

Die geleentheid is gebruik om te praat oor die talryke algemene probleme wat minderhede raak, soos dienslewering.

Die boodskap is sterk oorgebring dat die ANC-regering besig is om Suid-Afrika in ‘n mislukte staat te omskep waar veral die regte van minderhede geskend word. Die res van die toespraak het die volgende belig:

Minderhede in Suid-Afrika word deur ernstige uitdagings in die gesig gestaar wat tot nadeel van almal in die land sal strek indien daar nie vinnig oplossings gevind word nie.

Bykans dertig jaar ná die oorgang na ‘n nuwe bedeling, ondervind die land soveel probleme dat daar nie meer sprake kan wees van die “reënboognasie” wat op die wêreld se lippe was nie.

Rasgegronde beleid en wetgewing teiken alle minderhede en die regering is deurlopend besig om dit uit te brei en te verskerp.

Twee weke gelede het die president, Cyril Ramaphosa, die jongste wysigingswetsontwerp van die Regstellende Aksie-wet afgeteken.

Dit gee selfs groter magte aan die minister van arbeid om verdere kwotas eensydig op die private sektor af te dwing.

In die proses speel meriete en bevoegdheid geen rol nie, slegs kleur. Dit lei ook daartoe dat geen werklike vaardigheidsoordrag en -ontwikkeling in die arbeidsmag plaasvind nie. Ook dit benadeel eindelik almal in die land.

Die werkloosheidsyfer is buitensporig en 'n rekord-hoë 48% van die bevolking is hoofsaaklik aangewese op staatstoelaes om te oorleef.

Dienslewering het feitlik tot ‘n stilstand gekom. Daar is landwye beurtkrag en -water en riool vloei in strate wat deurspek is van slaggate. Dit is die realiteit van die Suid-Afrika waarin mense ‘n bestaan moet probeer maak.

Misdaad is buite beheer en die kans is sowat 40% dat elke Suid-Afrikaanse vrou in haar leeftyd verkrag gaan word. Slegs een uit nege verkragtingsake word aangemeld en in slegs 14% van alle moordsake is ‘n suksesvolle vervolging.

Die polisiemag is deurtrek van korrupsie en polisielede is in baie gevalle betrokke by misdaadsindikate.

Wat die Afrikaner aanbetref, is sy kulturele simbole en monumente onder beleg. Daar is nie meer plek in openbare biblioteke vir geskrifte oor die Afrikaner se kultuur en geskiedenis nie.

Haatspraak raak ‘n algemene verskynsel, selfs in die parlement, en dit dra gewoonlik geen gevolge nie.

Daar is wel uitsonderings op al hierdie vergrype soos die menseregtekommissie (MRK) se uitspraak teen die Universiteit van Stellenbosch (US) oor die vertrapping van Afrikaans ná ‘n klag van die VF Plus.

Al was dit ‘n geringe oorwinning, is dit belangrik aangesien dit wys dat minderhede nie hul lot gelate moet aanvaar nie, maar met alles tot hul beskikking moet veg teen die ongeregtigheid wat die regering geskep het.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.