fbpx
Vryheidsfront Plus

Landwye Aarto ‘n resep vir groter bloedvergieting en chaos op paaie

Aarto (die Wysigingswetsontwerp op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe) sal allermins wetteloosheid op die land se paaie teëwerk soos wat die minister van vervoer, Fikile Mbalula, aanvoer. Die teendeel is eerder waar en dit is die resep vir selfs groter chaos en bloedvergieting.

Aarto het reeds heeltemal gefaal in Gauteng en dié stelsel beweeg weg van sy doelwit om paaie beter te polisieer om dit veiliger te maak.

Dit het beweeg van ‘n strafregtelike stelsel na ‘n administratiewe stelsel en selfs hier faal dit weens onder meer personeeltekorte by die padverkeers-oortredingsagentskap (PVOA). Daar is ook nie howe in plek geplaas om Aarto-sake te bereg nie.

Die probleem met Aarto is dat dit ‘n komplekse stelsel is vir ‘n land wat nie in staat en gereed is om dit te implementeer nie.

Paaie het nie veiliger geraak nie en die teendeel het gebeur. Aan die hand van parlementêre vrae wat die VF Plus hieroor aan die minister van vervoer gevra het, blyk dit dat die ongeluk- en sterftesyfer in Gauteng ná die implementering van Aarto hoër is as voorheen.

In die lig hiervan is dit onverstaanbaar dat die stelsel nou moontlik landwyd na munisipaliteite gaan uitbrei wat in die meeste gevalle reeds bankrot is en waar korrupsie en wanbestuur gedy. Dit is ‘n resep vir chaos.

Die feit dat motorbestuurders weens ‘n puntestelsel hul lisensies kan verbeur, skep ook ‘n teelaarde vir korrupsie. Bestuurders sal desperaat wees om hul lisensies te behou en dit sal die moontlikheid van grootskaalse omkopery verhoog, veral met die uitreiking van boetekaartjies wat ‘n persoon se punte kan beïnvloed.

Die VF Plus kan nie insien hoe enige stadsraad die stelsel suksesvol kan implementeer nie. Indien die Gautengse metropole van Johannesburg en Pretoria dit nie suksesvol kon toepas nie, is dit ondenkbaar dat dit elders sal werk.

Die netto-effek indien dit nasionaal toegepas word, sal verhoogde korrupsie wees en paaie gaan veel gevaarliker word. Motoriste sal gou agterkom Aarto stel nie ware aanspreeklikheid daar om padreëls te gehoorsaam nie en dit sal die slagting op die land se paaie vergroot.

Die ANC sal hierdie bloed op sy hande hê en sal nie kan sê die VF Plus het hom nie gewaarsku teen die gevare daaraan verbonde om die stelsel landwyd in werking te stel nie.

 

Kontaknommer: 082 391 3117

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.