(Begrotingsposdebat in Vrystaat-wetgewer)
In stede daarvan dat die regering erns maak met voedselsekuriteit en homself beywer om as vennoot die Vrystaatse boere by te staan, verkies die provinsiale regering om vyandig teenoor die landbougemeenskap te wees.
Vrystaatse boere moet reeds teen die natuur stoei in die stryd om oorlewing en kan nie bekostig om ook beïnvloed te word deur ideologieë en beleid wat boerdery feitlik onmoontlik maak nie.
Boere in die Vrystaat kry ook nie genoeg ondersteuning van die Vrystaatse regering nie en word gereeld oorgesien weens onbevoegdheid en swak beplanning.
Die nasionale departement van landbou het bevestig dat die Vrystaatse provinsiale regering nie 'n sakeplan voorgelê het om droogtehulpbefondsing in die provinsie te ontvang nie.
Die VF Plus het in ‘n mosie in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) geeïs dat daar ondersoek ingestel word en dat die departement verantwoording doen vir sy versuim om 'n aansoek in te dien. Dit is van die hand gewys nadat ‘n Vrystaatse ANC-lid van die NRP daarteen gestem het en dit laat die vraag ontstaan wie deur hierdie toesmeerdery beskerm word.
Intussen sal boere in die Wes-Vrystaat wat deur meerjarige droogtes geteister is, niks ontvang nie.
Boere veg egter nie net teen die natuur en ‘n wanadministratiewe provinsiale regering nie, maar ook teen die algehele tekort aan effektiewe landelike beveiliging. Boere leef en produseer in vrees vir die volgende plaasaanval- of moord.
Daar bestaan geen twyfel nie dat die ANC nie die belangrikheid van die landbougemeenskap, veral in die Vrystaat, besef nie. Alhoewel die Vrystaat die voedselmandje van Suid-Afrika is, verleen die regering hopeloos te min hulp aan kommersiële boere in die provinsie.
Die departement se pogings om slegs gedurende hierdie tyd ondersteuning aan bestaansboere en kleinboere te bied, dra nie by tot voedselsekerheid nie.
Navrae: 076 629 6219