fbpx
Vryheidsfront Plus

Kuba-beheptheid ‘n klap in die gesig van werkloses

Die Kubanisering van Suid-Afrika het ‘n nuwe hoofstuk begin met ‘n bilaterale ooreenkoms om waterbronne te verbeter. Ingevolge die ooreenkoms sal 26 Kubaanse ingenieurs vanaf April vanjaar regoor die land ontplooi word om water-infrastruktuur in Suid-Afrika in stand te hou.

Kubaanse ingenieurs is nie by die Ingenieursraad van Suid-Afrika (ECSA) geregistreer nie. Hul kwalifikasies het nie die nodige akkreditasie wat ECSA erken nie en daarom mag hulle geen plan afteken nie.

Die VF Plus het in ‘n parlementêre vraag in die nasionale raad van provinsies, die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, versoek om aan te dui of haar departement met die Ingenieursraad van Suid-Afrika gekonsulteer het voordat die ooreenkoms aangegaan is en of haar departement enigsins ‘n poging aangewend het om van plaaslike ingenieurs gebruik te maak.

Die VF Plus wil ook weet hoeveel haar departement vir die ingenieurs begroot het en of die ooreenkoms tot werkskepping sal bydrae.

Die ooreenkoms met Kuba volg op die voormalige premier van die Vrystaat en sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, se Kubaanse ingenieurskema wat misluk het.

In 2015 het Magashule 37 Kubaanse ingenieurs in die Vrystaat as deel van ‘n tegniese adviesprogram aangestel om dienslewering te verbeter. Vyf jaar later is net drie van die ingenieurs nog in Suid-Afrika.

Dienslewering het nie verbeter nie en die R80 miljoen wat belastingbetalers daarvoor moes opdok, is gemors.

Die ANC se beheptheid met Kuba kos Suid-Afrikaners geld en werksgeleenthede. Indien die ANC daadwerklik daartoe verbind is om ekonomiese groei te verseker, sal hy eers na sy eie mense kyk. Die ooreenkoms is effektiewelik ‘n klap in die gesig van werklose Suid-Afrikaners wie se regering nie meer vir hulle omgee nie.

Die VF Plus sal die vordering van die ingenieurs dophou en sal seker maak dat die minister vir nog Kubaanse mislukkings verantwoordelik gehou word.

Kontaknommer:076 629 6219

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.