fbpx
Vryheidsfront Plus

Nelson Mandelabaai-metro moet oplossings vind vir waterlekkasies

Die VF Plus het ‘n skrywe aan die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM) se burgermeesterskomitee en munisipale bestuurder gerig oor waterlekkasies en in besonder een groot lekkasie wat sowat vier maande gelede reeds gerapporteer is aan die munisipaliteit se dienssentrum. Die VF Plus is van mening dat miljoene liter water reeds by hierdie enkele lekkasie vermors is.

‘n Ondersoek van die VF Plus het aan die lig gebring dat die probleem reeds langer as ‘n jaar bestaan in die stelsel wat vars water aan Port Elizabeth en omliggende gemeenskappe voorsien.

Die VF Plus dring daarop aan dat die metro ingryp en hierdie situasie beredder deur daadwerklike optrede. Aandag moet geskenk word aan alle lekkasies in die metro.

Die metro het onlangs waterbeperkings ingestel en maan inwoners om spaarsamig te wees met water. ‘n Waterbeperking van 50 liter water per persoon per dag, is reeds ingestel.

Die Oos-Kaap, en veral die NMBM, het ‘n tekort aan water en het selfs sewe maande gelede droogtehulp van R200 miljoen ontvang van die regering om die probleem te help verlig. Hierdie geld is steeds nie aangewend nie.

Die VF Plus kry toenemend klagtes van inwoners van die metro dat waterlekkasies nie aandag geniet of herstel word nie en die gevoel is dat inwoners nou weens die onbevoegdheid van die metro met waterbeperkings gestraf word.

Die VF Plus moedig inwoners aan om druk op die metro uit te oefen deur alle waterlekkasies sonder skroom aan te meld en onophoudelik daarop aan te dring dat dit herstel word.

Dit is onaanvaarbaar dat die laksheid en onbevoegdheid van die plaaslike metro onder beheer van die ANC en DA die oorsaak is dat die metro se krane heeltemal droogloop terwyl daar nie aandag gegee word aan watervermorsing deur die metro self nie.

Die VF Plus sal in die belang van alle inwoners van die metro aanhou om met alles in sy vermoë te veg teen die swak dienslewering van die ANC en die DA.

Kontaknommer: 072 582 3461

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.