Mense wat bedenkinge het oor die haalbaarheid van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), is bloot “gekant teen transformasie” het pres. Cyril Ramaphosa vandag in die parlement gesê in antwoord op vrae van die VF Plus oor dié gesondheidsplan.
Die VF Plus het die president daarop gewys dat verskeie genoteerde maatskappye soos Discovery altesaam meer as R14 miljard verloor het nadat die NGV twee weke gelede in die parlement ter tafel gelê is en dat dit reeds in verskeie lande misluk het.
Ander maatskappye wat groot verliese gely het, is Afrocentric Health, Momentum Shed, Discovery en Adcock Ingram. In Ierland is ‘n soortgelyke gesondheidsplan laat vaar slegs vier jaar nadat dit in werking gestel is.
Pres. Ramaphosa se antwoord was dat geldmarkte volatiel en maklik beïnvloedbaar is en dat “mense wat gekant is teen transformasie” negatiewe sentiment geskep het deur alarmistiese uitsprake oor die wetsontwerp.
Hy het gesê wanneer die “voordele van die NGV eers sigbaar raak”, sal vertroue vinnig terugkeer en die markte sal herstel.
Die VF Plus is bekommerd oor die president se oorvereenvoudiging van die situasie. Die grootste gevaar vir die mislukking van die NGV is die ANC-regering self wat oor 25 jaar by herhaling gewys het hy is nie in staat om te regeer of te bestuur nie.
Entiteite soos Eskom, die SAL, SABC en ander is tasbare bewyse vir die VF Plus se kommer oor die haalbaarheid van enige plan of projek wat die regering moet aanpak en bestuur.
Dit is ook betreurenswaardig dat president so gevoelloos staan teen die maatskappye wat ‘n fortuin verloor het weens die feit dat talle ingeligte sakemanne duidelik die VF Plus se sentimente oor die ANC se onbevoegdheid deel. Dit het niks te make met weerstand teen transformasie nie.
Kontaknommer: 060 556 4347