Die VF Plus-jeug in Gauteng eis vinnige en daadwerklike optrede van die polisie na ‘n ontstellende video aan die lig gekom het waarin kleuters by ‘n dagsorgsentrum in Randfontein aanhoudend op die speelgrond geslaan en rondgeruk word. Een van die kinders word selfs met ‘n besem aangerand.
Een kind word oënskynlik nege keer in 45 minute geklap terwyl die ander kinders histeries huil en skree.
Die VF Plus-jeug doen ‘n ernstige beroep op die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling om die dagsorgsentrum dadelik te sluit en ondersoek in te stel of dit wettig bedryf word.
Die ouers van die betrokke kinders word ook versoek om klagte van aanranding by die polisie aanhangig te maak.
Soortgelyke gebeure is vroeër vanjaar by die polisie aangemeld toe ‘n werker van die Ninie Neurons-kleuterskool in Carletonville drie peuters in haar sorg na bewering wreed aangerand het. Die saak is nou oorgeplaas na die streekhof.
Die onmenslike optrede teenoor hulpelose kleuters wat in die video’s afspeel, kan nie geduld word nie en die skuldiges moet aan die pen ry.
Kontaknommer: 079 224 7321