Wouter Wessels, VF Plus-LPW, het Woensdag gedurende die laaste Vrystaatse wetgewersitting vir die jaar dit aan die huis gestel dat die Vrystaat se munisipaliteite hulself midde ‘n reuse krisis bevind.
Uitstaande skuld aan Eskom vir slegs 8 munisipaliteite beloop reeds meer as R800 miljoen. Mafube-plaaslike munisipaliteit kan nie salarisse betaal nie, om nie eers te praat van noodsaaklike diensverskaffing, kontrakteurs en instandhouding van infrastruktuur nie.
Tokologo-plaaslike munisipaliteit, wat Hertzogville, Boshoff en Dealesville insluit, is bankrot, kan nie vir Eskom betaal nie en selfs hul voertuie word op beslag gelê om skuldeisers te betaal.
Dit is egter nie net in die platteland nie, Mangaung-metro word deur die Nasionale Tesourie geag in ‘n nie-volhoubare finansiële posisie te wees na lenings van meer as R700 miljoen aangegaan is om infrastruktuurprojekte te befonds.
Munisipaliteite soos onder andere Moqhaka, Nala en Tokologo het van hul tariewe met tot 600% verhoog in die hoop om hul benarde finansiële posisies te verbeter deur die reeds vuisvoos betalende verbruiker uit te buit.
Wessels het gesê dat maatreëls soos hierdie slegs die situasie sal vererger, aangesien sakeondernemings gedwing sal word om te sluit en betalende inwoners nie die onbekostigbare tariewe sal kan betaal nie.
Die huidige ondersteuningsprojekte van die provinsiale regering aan munisipaliteite is ontoereikend en moet heroorweeg word. Hy het benadruk dat die provinsiale regering daadwerklik sal moet ingryp deur nodige aanpassings te maak, vrugtelose en verkwistende uitgawes en swak bestuur stop te sit en hulle prioriteite agtermekaar te kry.
Heloïse Jordaan
Mediaskakelbeampte: Vrystaat
Kontaknommers: 072 997 8315 / 051 407 1104