Dit is duidelik dat pres. Zuma die ANC gyselaar hou met die dreigement van skeuring indien die party van hom ontslae sou raak,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
In reaksie op die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) se uitlatings oor die mosie van wantroue teen president Jacob Zuma, sê dr. Groenewald die ANC het ‘n duur les geleer na 2007 toe hy geskeur het en Cope gevorm is.
Hy sê die ANC besef dat indien hy nou weer sou skeur, daar ‘n goeie kans is om in die 2019-verkiesing die mag te verloor.
“Dit is duidelik dat Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, alles in sy vermoë doen om die beeld na buite te skep dat daar konsensus en eenheid in die gesagstrukture van die ANC is, en daarom fokus hy daarop om te sê die Nasionale Demokratiese Revolusie is steeds op koers en dat die ANC ywerig werk aan ‘n padkaart om sukses te verseker in die 2019-verkiesing.
“Dit beteken dat Zuma ten minste tot en met die verkiesingskongres in Desember 2017 die president van die ANC sal bly, en selfs moontlik tot in 2019 as president van Suid-Afrika.
“Zuma is ‘n meester daarvan om blaam te verskuif en dit blyk uit die konferensie dat Mantashe gesê het die aanslag het sy wortels in rassisme, etniese nasionaliteit en buitelandse kapitalisme. Wat die NUK betref, is al die bewerings teen Zuma bloot ‘negatiewe gerugte’.
“Daar sal gewag en gesien moet word of van die ministers wat wel ernstig hul besware geopper het teen Zuma, gaan bedank uit die kabinet, en of Zuma sy kabinet gaan skommel,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403