Die gewysigde voorgestelde regulasies vir die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming wat gister in die Staatskoerant afgekondig is, is niks anders nie as ‘n verkiesingsfoefie van die ANC.
Ná dertig jaar van wanbestuur met niks oor te spog teenoor kiesers nie, word die holruggeryde perd van apartheid op hierdie wyse weer voor die ANC-verkiesingswa ingespan.
Die geykte ideologiese politieke boodskap hierdeur aan kiesers is dat die ANC-regering deur dié wet wat die “onreg van die verlede” wat apartheid veroorsaak het, gaan regstel.
Dit resep van gedwonge regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wat die afgelope dertig jaar net op mislukking uitgeloop het, word hiervoor gebruik.
Al wat dit tot nou toe bereik het, is om die land se ekonomie te vernietig en ongelykheid, werkloosheid en armoede in die hand te werk.
Volgens die minister van indiensneming en arbeid, Thulas Nxesi, is die sektorale konsepregulasies “vyfjaarteikens” en nie “kwotas” nie.
Dit is ook slegs nasionale teikens en onderskei nie tussen rasse nie, maar maak slegs melding van “aangewese groepe” wat swart, bruin en Indiërs insluit.
Die VF Plus se siening is dat die minister die regulasies noem wat hy wil, dit bly steeds niks anders as kwotas nie. Oor dertig is bewys dat niks hierdeur bereik is nie, buiten om die privaat sektor se vermoë om werk te skep, aan bande te lê.
Die feit dat teikens nie meer vir spesifieke groepe gestel word nie, wys wel dat die hewige teenstand van die burgerlike samelewing teen die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming, ‘n rol kán speel om skadelike wetgewing te beïnvloed.
Die VF Plus het verlede jaar met die Wet op Gelyke Indiensneming regstappe begin neem en het intussen gewag op die publisering van die konsepregulasies. Die party sal nou met sy regspan beraadslaag oor die pad vorentoe
Gegewe die totale mislukking van die regering se poging tot regstelling deur RA en SEB oor dertig jaar, is dit duidelik dat dit lank reeds afgeskaf moes gewees het.
Tot nou het net die ANC en ‘n klein groepie politieke elite met ANC-bande bevoordeel terwyl die massas verarm het.
Dit is duidelik dat die ANC se politieke bankrotskap hom geen ander kaarte meer laat om te speel om kiesers te beïnvloed nie.
Die apartheidskaart en wat daaruit voortvloei, kan beswaarlik langer gebruik word om ‘n korrupte, mislukte regering aan bewind te hou. Kiesers hou met die komende algemene verkiesing die mag in hul hande om die land te red van die ANC.