Die veiligheidsnet wat veronderstel was om die verdere uitbreking van bek-en-klouseer te voorkom, is klaarblyklik vol gate en dit kan reggestel word deur bestaande maatreëls streng toe te pas.
Die jongste uitbreking van dié siekte in Gauteng en Noordwes kan in alle waarskynlikheid toegeskryf word aan die onwettige vervoer van besmette diere vanuit oostelike gebiede in die land waar maatreëls en die nodige sone-omheinings nie in plek is nie.
Die onmiddellike gevolg hiervan was dat China ’n verbod geplaas het op die invoer van gesplete hoefdiere en hul produkte, soos wol, vanuit Suid-Afrika.
Suid-Afrika voer sowat 80% van sy wolproduksie uit na China wat sowat R4,8 miljard verteenwoordig.
Hierdie verwikkeling raak die groter Suid-Afrikaanse ekonomie direk wat probeer om die skadelike gevolge van Covid-19-regulasies af te skud, veral nou met die beëindiging van die ramptoestand.
Suid-Afrika se landbougemeenskap moet al voel of die Bybelse plae hulle teister met ’n stryd teen bek-en-klouseer, bloutong, Afrika-varkgriep, voëlgriep, sprinkaan-, vlieë- en miggieplae, brande, ’n uitgerekte droogte en daaropvolgende vloede wat tot verdere verwoesting en vernietiging lei.
Streng beheermaatreëls teen bek-en-klouseer is ná die wye uitbreking van 2019 in plek gestel en geld is bewillig vir die veilige sones om toe te sien dat besmetting nie versprei nie.
Alhoewel Suid-Afrika se nasionale regering ‘n oorsigrol oor dieregesondheid vertolk, is die verantwoordelikhede hierom afgewentel na die provinsiale departemente wat moet toesien dat maatreëls en die instandhouding van nodige omheinings uitgevoer word.
Die jongste uitbreking dui daarop dat dit nie gedoen word nie en dit laat vrae ontstaan oor die regering se moniterings- en oorsigrol en beheer oor provinsies se uitvoering van bestaande maatreëls en die instandhouding van die veilige sones se omheinings.
Provinsies het wel ’n tekort aan staatsveeartse wat direk verband hou met die nie-nakoming van maatreëls, maar kaderontplooiing en sy onafwendbare uitvloeisels soos onbevoegdheid, wanbestuur en korrupsie, speel ’n groot rol in die bestaande probleme.
Die feitlik insolvente Landbounavorsingsraad (LNR) het byvoorbeeld in die eerste drie kwartale van die vorige boekjaar sowat R400 miljoen terugherlei na provinsies vir die bekamping van bek-en-klouseer nadat dit aanvanklik nie gebruik is nie.
Met die vorige uitbreking in 2019 het Suid-Afrika sy internasionale status by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid verloor wat ’n swaar slag vir landbou en die veebedryf in besonder was.
Die VF Plus sal in verdere gesprek tree met die nasionale departement om toe te sien dat uitvoering gegee word aan maatreëls wat reeds in plek is en dat die nodige instandhouding aan sone-omheinings gedoen word.