Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners van die Ekurhuleni-metro om die konsepbegroting vir die 2022/23-finansiële jaar asook die voorgestelde geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) te bestudeer en insette te lewer om by te dra tot die vooruitgang van die metro.
Die GOP is ‘n konsepplan wat die metro se groei- en ontwikkeling vir die volgende vyf jaar breedvoerig uitspel.
As deel van ‘n openbare deelnameproses het inwoners die geleentheid om vergaderings by te woon waartydens die GOP behoorlik uiteengesit sal word. Die vergaderings sal vanaf 5 tot 24 April plaasvind.
Kommentaar moet die metro voor 29 April 2022 bereik.
Die konsepbegroting sowel as die GOP is beskikbaar by alle biblioteke, dienssentrums en die metroraad se webtuiste by www.ekurhuleni.gov.za.
Kommentaar kan gestuur word na budgettips@ekurhuleni.gov.za en navrae kan gerig word aan Sam.Kgatla@ekurhuleni.gov.za.
Vir navrae oor die konsepbegroting en GOP kan inwoners die volgende nommer skakel: 011 999 0067/0169.
Die veelparty-koalisieregering moedig inwoners aan om die proses nie bloot as ‘n voorskrif van die Munisipale Strukturewet te beskou soos in die verlede nie, maar dat elke inwoner ernstig met die proses sal omgaan en van die geleentheid gebruik maak om doelgerigte insette te lewer.