Die swak diens wat die gemeenskap van Witrivier by die plaaslike voertuiglisensiekantoor ontvang, het Vrydag die humeure laat opvlam tot so ‘n mate dat verskeie persone eerder huis toe is om die plofbare situasie te vermy.
Die gemeenskap van Witrivier kla al ‘n geruime tyd oor die swak dienslewering by dié lisensiekantoor.
Probleme wat meermale ervaar word, sluit in dat die rekenaarstelsel glo van lyn is of selfs dat die spesiale papier waarop lisensieskyfies gedruk word, nie beskikbaar is nie.
Die mees algemene klagte is egter die swak diens wat die publiek van die personeel ontvang.
Dit het menigmale daartoe gelei dat voertuigeienaars wat hul voertuig- of bestuurderslisensies wil hernu, dit nie kan doen nie.
Dit lei daartoe dat mense soms geen keuse het as om sonder die nodige lisensies te ry nie. Hierdie situasie is onaanvaarbaar.
Die VF Plus het ‘n dringende skrywe gerig aan die munisipale bestuurder van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit (Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapschehoop, Skukuza, Witrivier), Wiseman Khumalo, om die probleme te ondersoek en oplossings te vind.
Dit is jammer dat wetsgehoorsame inwoners van Witrivier die prys moet betaal vir die ANC se totale onvermoë om die munisipaliteit te bestuur.
VF Plus sal nie toelaat dat hierdie onbevoegdheid en swak dienslewering langer voortduur nie.