Nog ʼn persoon is Sondag (13 Julie) op die berugte gedeelte van die N2-hoofweg in Kaapstad naby die Kaapstad Internasionale Lughawe, ook bekend as “Hell Run”, ernstig beseer toe ‘n klip na ‘n motor gegooi is.
Die mense was op pad na die lughawe vanaf Somerset-Wes toe ʼn betonblok na hul voertuig geslinger is wat die vrou in die gesig getref het.
ʼn Ander voertuig het intussen gepoog om hulle van die pad te dwing.
Hul oproepe om hulp na die polisie se 10111 nommer het onbeantwoord gebly.
Die slagoffers het ʼn saak van poging tot moord by die polisie geopen.
Luidens berigte het Sanral se opsporingstelsel in 2023 meer as 200 misdaadverwante voorvalle op die N2 en R300 in Kaapstad geregistreer wat insluit die gooi van klippe en roofaanvalle op motoriste.
Die sogenaamde “Hell Run”, wat die N2 naby die lughawe insluit, is reeds as ‘n hoërisiko-gebied geïdentifiseer.
Daarom is dit uiters kommerwekkend dat die geslote baan-televisiekameras op dié stuk pad buite werking is en sigbare polisiëring duidelik ontoereikend is.
Kameras kan dien as afskrikmiddel asook om oortreders vas te trek.
Die VF Plus doen ʼn beroep op Sanral, die polisie en die metropolisie om omvattende maatreëls in te stel om die veiligheid van motoriste op veral die N2 naby die lughawe op te skerp om hierdie soort voorvalle te voorkom.


