Kaapstad se hersiene begroting vir die 2026/27-boekjaar, wat eerskomende Maandag, 29 Junie, tydens ‘n raadsvergadering bespreek gaan word, gaan sy inwoners uitermatig beproef en sal gewone salaristrekkers en getroue belastingbetalers verder verarm.
Hoewel die stad verhoogde drempels vir armoedeverligting en ‘n beskeie 2%-verlaging in die tarief-in-rand uitlig, gaan inwoners weer swaar dra aan eiendomsbelasting en vaste dienstegelde. Die tarief-in-rand is die bedrag eiendomsbelasting (munisipale belasting) wat aan die munisipaliteit betaal word vir elke rand van die eiendom se munisipale waardasie.
Die onlangse algemene eiendomswaardasieproses het eiendomswaardes vir veral middel- en hoër inkomstegroepe aansienlik verhoog. Dit lei tot hoër tariewe vir huishoudings wie se inkomste nie tred hou met die verhogings nie.
Hierdie waardasiesprong dreig om talle begunstigde inwoners en pensioenarisse van noodsaaklike elektrisiteitsvoordele uit te sluit, met die vaste koste vir eiendomme bo R1 miljoen wat maandeliks tot R424.30 sal styg.
Die vaste koste vir die residensiële verbruikerstarief in Kaapstad is tans R390.87 per maand.
Hierdie bedrag (sonder BTW) is die gevolg van die nuwe infrastruktuurheffing wat op 1 Julie 2025 ingestel is. Dit het aansienlik gestyg vanaf die vorige maandelikse vruggebruikersheffing van R281.78 – ‘n toename van 38%.
Op 1 Julie 2026 sal daar ‘n verdere verhoging wees. Die beoogde hoër heffingsbedrag van R424.30 wys op ‘n verdere styging van sowat 8.5% (of ‘n ekstra R33.43 per maand) vir eienaars met eiendomme met ‘n waarde van meer as R1 miljoen.
Die huidige tariefverligtingstelsel vir behoeftige betalende inwoners is onvoldoende en hulle sal onmoontlik nie die stygende vaste diensgelde, wat sedert 2024/25 met tot 68.3% toegeneem het, kan bybring nie.
Dit is totaal buite die bereik van alle gewone salaristrekkers omdat salarisverhogings nie met sulke buitensporige belastingverhogings tred hou nie.
Die voorgestelde verhoging in MyCiTi-tariewe, wat ‘n maandelikse kaartjie vanaf 1 Julie van R1 000 tot R1 500 verhoog, is ook buite die bereik van gewone pendelaars. Al hierdie faktore, tesame met die Wes-Kaapse hooggeregshofbesluit om geen terugbetalings vir voorheen onwettige tariewe te beveel nie, gaan Kaapstad ‘n peperduur en haas onbekostigbare plek maak om in te woon.
Dit is duidelik dat die stad baie geld nodig het om sy maatskaplike welwillendheid te finansier en dat inwoners wat getrou belasting betaal, genadeloos hiervoor gemelk word.
Die stad beweer dat infrastruktuurprojekte sal voortduur, maar sonder deursigtige en praktiese maatreëls om huishoudings teen die eskalerende lewenskoste te beskerm, loop hierdie begroting die risiko om eerder politieke ambisie te finansier ten koste van betalende inwoners.
Kaapstad verdien ‘n begroting wat noodsaaklike dienste werklik balanseer met die ekonomiese realiteite van sy diverse gemeenskappe. Die Stad Kaapstad moet versigtig wees dat hy nie sy belastingbasis met ‘n onbillike las van hom vervreem in ‘n poging om die provinsie se snelgroeiende inwonerstal, wat in baie gevalle ekonomies onaktief is, te akkommodeer nie.
Dit help nie om te spog met dienste wat beter is as waar die ANC regeer as jy inwoners daarvoor uitmergel nie. In die eerste plek is dit geen kuns om beter as die ANC te regeer nie. Teen die tariewe wat die stad se inwoners tans betaal, kan hulle sekerlik verwag om diens van die hoogste gehalte moontlik te kry – iets wat glad nie die geval is nie.


