Suid-Afrika het 2,2 miljoen werke verloor sedert die eerste kwartaal van 2020, die grootste kwartaal op kwartaal-verlies sedert 2008. Tog toon die jongste werkloosheidsyfers wat Statistiek Suid-Afrika vandag bekendgestel het, dat die werkloosheidskoers met 6,8% gedaal het tot 23,3% gedurende die tweede kwartaal van 2020.
Dit is misleidend en onakkuraat aangesien die definisie van werkloos nie persone insluit wat nie aktief vir werk soek nie. Uiteraard kon persone nie gedurende vlak 5 en vlak 4 van die grendelstaat werk soek nie. Daarom het die getal mense wat nie ekonomies aktief is nie met 5,6 miljoen toegeneem. Hierdie syfer wys die werklike stand en krisis ten opsigte van werkloosheid in Suid-Afrika.
Statistiek Suid-Afrika waarsku self dat vergelykings met vorige kwartale en jare se data omsigtig gedoen moet word, aangesien die jongste opnamesyfers nie op ‘n volledige steekproef van die bevolking gegrond is nie.
Suid-Afrikaners moet onder geen illusie verkeer nie dat daar ‘n geweldige werkloosheidskrisis in die land is en skeefgetrekte werkloosheidsyfers sal nadelig wees in die soeke en implementering van oplossings.
In ag genome die aantal werksverliese, spreek die oordrewe fokus van veral die departement van arbeid op byvoorbeeld gelyke indiensneming deur die afdwing van kwotas in die werksplek en strenger wetgewing wat daarmee gepaardgaan, in stede daarvan om op werkskeppingsinisiatiewe gedurende hierdie desperate tye te fokus, boekdele.
Dit dui op die ANC-regering as ‘n geheel se verkeerde prioriteite en onvermoë om behoorlike krisisbestuur toe te pas.
Regeringsondersteuning gedurende die pandemie in die vorm van onder meer die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se tydelike werknemersverligtingsfonds (TERS), was ‘n druppel aan die emmer en is hoegenaamd nie volhoubaar nie.
Ondersteuning vir kleinsake-ondernemings het ver tekort geskiet en kleinsake en die privaatsektor is tot ‘n groot mate vir verskeie maande totaal lamgelê.
Die skuld vir afleggings en ander probleme in die arbeidsmark word gereeld deur die minister van arbeid voor die deur van die privaatsektor gelê, maar regeringsondersteuning aan die privaatsektor, die grootste werkskepper in die land, is onvoldoende. Die regering fokus meer op onder meer regstelling as werkskepping en daarom verkeer die land in ‘n werkloosheidskrisis.
Die uitgebreide werkloosheidskoers van 42% is selfs meer kommerwekkend, aangesien dit ontmoedigde werksoekers insluit. Daar is reeds meer mense in die land afhanklik van maatskaplike toelaes as mense wat werk en die land kan nie meer die druk op die fiskus hanteer nie.
Moontlikhede van ‘n basiese inkomstetoelaag soos deur die regering beoog, is dus doodgebore en sal van Suid-Afrika meer ‘n welsynstaat as ‘n ekonomies volhoubare land maak.
Die derde kwartaal se werkloosheidsyfer sal ‘n aanduiding wees of die regering daarin kon slaag om die werkloosheidsbloedbad weens die inperking om te keer, mits dit op ‘n normale grondslag geskied.
Dit is egter onwaarskynlik aangesien die regering tot op hede slegs fokus op maatskaplike korttermyn-bystand en kosmetiese transformasieteikens eerder as om kleinsake-ondernemings by te staan en die nodige strukturele hervormings, wat nodig is om ekonomiese groei en werkskepping te bewerkstellig, daar te stel.
Navrae: 072 997 8315