Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Jongste aanbevelings vir munisipale belasting en heffings van finansiële en fiskale kommissie is irrasioneel

Die jongste aanbevelings van die finansiële en fiskale kommissie oor wyses waarop munisipaliteite hul inkomste kan aanvul, is irrasioneel en totaal van die Suid-Afrikaanse werklikheid verwyder.

Hierdie kommissie adviseer die parlement en die regering oor staatsbesteding en inkomste. Sy jongste aanbevelings om munisipaliteite uit hul kontantverknorsing te help, sluit onder meer belastings op parkeerareas, brandweerheffings, heffings op advertensieborde by ondernemings, sowel as heffings op hotelbeddens in.

As redes vir hierdie voorstelle word onder meer aangevoer dat die sentrale regering weens stygende begrotingstekorte nie meer sy finansiële steun aan munisipaliteite kan volhou nie. Agterstallige belastinginvordering in plaaslike regerings beloop reeds R150 miljard.

Die feit dat ANC-beheerde munisipaliteite om politieke redes nie die wil het om effektief belasting onder hul kiesers in te vorder nie, word verswyg. Die volgende plaaslike verkiesing is immers om die draai.

Chaotiese rekordhouding en die powere bestuur van munisipale finansies weens kader-aanstellings word ook nie genoem nie. So ook nie die korrupte stroping van die fondse wat wel beskikbaar is nie.

Die beginsel dat daar effektiewe dienslewering in ruil vir die betaling van enige belastings en heffings moet wees, word ook deur die kommissie geïgnoreer. Die vervalle stand van munisipaliteite landwyd spreek vanself.

Hierdie aanbevelings kom op ‘n tydstip dat sakeondernemings en werkskeppers op hul knieë gedwing word deur ‘n rits irrasionele inperkingsregulasies wat die ANC-regering op hulle afdwing. Nou word van dieselfde ondernemings verwag om verdere onsinnige heffings en belastings te betaal om korrupte munisipaliteite staande te hou. Dit is gekkigheid.

Die VF Plus het reeds gewaarsku dat die burgery van Suid-Afrika voos betaal is aan belastings en heffings, sonder dat hulle enige waarde ontvang. Die indruk dat hulle bloot korrupsie en bedrog finansier, lei ook tot 'n groeiende weerstand onder belastingbetalers.

Die kommissie en die regering moet ophou met hul onverantwoordelike sosialistiese wensdenkery en die werklikhede van die Suid-Afrikaanse ekonomiese situasie erken. Alles behoort in die stryd gewerp te word om ondernemings, belastingbetalers en Suid-Afrika se belange eerste te stel.

Navrae: 079 409 8342

 

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.