Die Johannesburg-metro kan nie langer voortgaan om slaggate net te lap sonder om behoorlike padherstelstandaarde te volg om te seker te maak dat padinstandhouding na behore uitgevoer word nie.
Luidens ʼn verslag van Johannesburg se departement van vervoer, kos dit die metro tussen R700 en R1 500 om ’n enkele slaggat te herstel. Die Johannesburgse Padagentskap (JRA) is verantwoordelik vir die instandhouding van ’n uitgebreide padnetwerk van 13 599 kilometer, wat ontwerp is om ’n lewensduur van sowat 25 jaar.
Tussen Julie en Desember 2025 is 23 572 slaggate aangemeld. Alhoewel die JRA beweer dat 20 302 hiervan herstel is, ervaar motoriste regoor Johannesburg steeds verslegtende padtoestande, met baie slaggate wat binne maande weer verskyn nadat dit herstel is.
Die metro het R149 miljoen vir slaggatherstel in die 2025/2026-finansiële jaar begroot. Die VF Plus glo egter dat hierdie begroting nie doeltreffend aangewend word nie weens swak herstelstandaarde en die verkeerde toewysing van hulpbronne.
Die huidige metode om slaggate bloot te lap, is nie volhoubaar nie.
In baie gevalle behoort hele padgedeeltes behoorlik oopgegrawe, gekompakteer en in groter blokke oorgeteer te word.
Vinnige herstelwerk hou nie aangesien waterinsypeling en deurlopende voertuigverkeer dit vinnig weer beskadig.
Die metro se argument dat daar nie genoeg fondse is nie, hou nie water nie, aangesien swak standaarde die hoofrede vir herhaalde uitgawes is.
Die VF Plus stel twee praktiese oplossings voor:
• Die metro moet wegbeweeg van tydelike lap- en plakwerk en belê in duursame, langtermynoplossings.. Behoorlike heropbou van beskadigde padgedeeltes
• ’n Beduidende gedeelte van eiendomsbelasting wat inwoners in ’n wyk betaal moet direk herbelê word in die instandhouding van infrastruktuur in daardie wyk.
Dit is onaanvaarbaar dat hardwerkende belastingbetalers gedwing word om met vervalle paaie saam te leef terwyl hul belastings gebruik word om ander gebiede te diens en te ontwikkel.
Die ANC-geleide koalisie moet seker maak dat hulpbronne regverdig en deursigtig aangewend word sodat alle gemeenskappe voordeel trek uit die belasting wat hulle betaal en nie net wyke waar die ANC voordeel by die stembus kan trek nie.
Die VF Plus sal aanhou om die ANC-koalisie aanspreeklik te hou en bly daartoe verbind om te verseker dat Johannesburg se inwoners die dienslewering kry wat hulle verdien.
Die party sal ook voortgaan om sterk alternatiewe te bied en die ANC uit sy magsposisie te lig tydens die komende munisipale verkiesing.


