Die Gauteng-regering se nuwe ekonomiese ontwikkelingsplan (Gauteng City Region Economic Growth & Development Plan 2030) wat verlede week bekendgestel is, is gedoem tot mislukking indien dit nie wegbeweeg van die ANC se ideologiese benadering waar die ekonomie op grond van ras bestuur word in stede van meriete nie.
Die nuwe ekonomiesie ontwikkelingsplan is wel ʼn goeie vertrekpunt, maar dit bly onvoldoende aangesien dit nie die werklike oorsake van Gauteng se ekonomiese verval behandel nie.
Die provinsie sit vas in ’n kringloop van swak groei en ongekende werkloosheid wat oor bykans twee dekades strek. Dieselfde beleid kan eenvoudig nie ’n ander uitkoms lewer nie.
Die tyd het aangebreek vir drastiese optrede deur beproefde beleid te aanvaar wat wêreldwyd oor meer as ’n eeu bewys het dat dit groei en werkskepping bevorder. Dit sluit in die bevryding van die mark van oormatige regulering en die uitwissing van korrupsie.
Die VF Plus is oortuig dat sy ekonomiese beleid Gauteng weer op ’n groeitrajek kan plaas. Die mikpunt is dat ekonomiese groei die bevolkingsaanwas moet oorskry sodat die meeste ekonomies aktiewe mense werk kan kry.
Dit sal afhanklikheid van toelaes verminder en die las op die fiskus verlig.
Vir hierdie doel is beleggings noodsaaklik, veral buitelandse beleggings wat die rand se swak waarde teenoor die dollar kan benut.
Die VSA het reeds aangedui dat miljarde dollars beskikbaar is om in Suid-Afrika te belê mits die ANC ’n gunstiger omgewing skep deur beleid soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB) heeltemal te skrap.
Die VF Plus se advies aan die Gauteng-regering is om subnasionale handelsbande met deelstate in die VSA te vestig. Die Grondwet maak voorsiening daarvoor dat provinsies sulke verdrae kan sluit, wat ’n direkte pad kan skep vir beleggings wat nie deur nasionale geopolitieke spanning geraak word nie.
Die VF Plus beklemtoon dat regstellende aksie en SEB nie hervorm kan word nie, maar afgeskaf moet word. Meriete moet die enigste maatstaf wees vir aanstellings en beleggings. Dit sal die kundigheid in die staatsdiens herstel en ’n werklike beleggersvriendelike klimaat skep.
Die VF Plus staan reg om die mislukte ANC-beleid te vervang met beproefde, merietegedrewe oplossings wat werklike groei en werkskepping bring om die ekonomie van Gauteng op die regte koers te plaas tot voordeel van sy inwoners.


