Die VF Plus het die Johannesburgse burgemeesterskomiteelid van vervoer en paaie, Kenny Kunene, versoek om dringend aandag aan paaie in Roodepoort te skenk aangesien die reënseisoen, wat ʼn groot bydra gespeel het tot die vorming en vergroting van die slaggate, nou ten einde geloop het.
Dit bied ʼn gulde geleentheid vir die departement om die paaie te herstel.
Dit is veral paaie soos Albert Sisulu, Ontdekkers, Christiaan de Wet en Wilgeroodweg waar groot slaggate voorkom en motoriste daagliks hul lewe waag om dit te gebruik.
Die meeste skade word aan motors aangerig op paaie waar die spoedgrens tussen 80 en 100km per uur is en bestuurders nie gou genoeg ʼn slaggat kan sien om spoed te verminder nie.
Die VF Plus het reeds aan die burgemeester, Dada Morero en die burgemeesterskomiteelid vir finansies, Margaret Arnolds, voorgestel dat die metro se totale kapitaalbesteding verhoog van R7,7 miljard tot R8,09 miljard om infrastruktuur te herstel en onderhou.
Tans maak die konsepbegroting vir die 2025/26-finansiële jaar voorsiening vir ʼn afname in kapitaalbesteding van R7,7 miljard tot R7,2 miljard terwyl infrastruktuur in duie stort.
Die VF Plus sal die raad versoek om genoeg fondse beskikbaar te stel vir die herstel van nie net hoofpaaie nie, maar ook sekondêre paaie in Roodepoort.