Die VF Plus eis dat die Emalahleni-plaaslike munisipaliteit dringend verantwoordelikheid neem om die OR Tambo-rylaan in Witbank/Emalahleni te herstel.
Voorstelle om padveiligheid hier te verseker, is saam met die skriftelike versoek by die munisipale bestuurder, mnr. Humphrey Sizwe Mayisela, se kantoor ingedien.
Die munisipaliteit (Kriel, Ogies, Phola, Emalahleni/Witbank) het tot dusver bykans geen herstelwerk aan die pad gedoen nie.
Die konstante vloei van swaar vragmotors op hierdie roete dra beduidend by tot die omvang van die skade. Daar is ‘n kommerwekkende toename in ernstige ongelukke op OR Tambo-rylaan, waarvan sommige reeds tot die verlies van lewe gelei het.
Verskeie diep slaggate lei gereeld tot beskadigde bande en ander skade aan voertuie. Die VF Plus het reeds verskeie klagtes vanaf plaaslike inwoners hieroor ontvang.
Die VF Plus doen gevolglik ‘n dringende beroep op mnr. Mayisela om:
• Onmiddellike herstelwerk aan die slaggate op OR Tambo-rylaan te onderneem.
• Maatreëls in te stel om die impak van swaar voertuigverkeer op die pad te beperk, insluitend moontlike gewigsbeperkings of die ondersoek van alternatiewe roetes.
• ‘n Duidelike en dringende plan met belanghebbendes te kommunikeer oor hoe die langtermyn-instandhouding van die rylaan verseker sal word.
• Deursigtigheid en gereelde terugvoer aan die gemeenskap te gee oor die vordering wat gemaak word om hierdie kritieke probleem aan te spreek.
Die veiligheid en welstand van die inwoners van Emalahleni moet ‘n prioriteit wees. Die voortdurende versuim van die munisipaliteit om iets aan die gevaarlike toestand van OR Tambo-rylaan te doen, is onaanvaarbaar en vereis ‘n onmiddellike en effektiewe reaksie.