Onwettige handel in die afvalmetaal-bedryf is omvangryk en speel ‘n groot rol in die vandalisering van openbare infrastruktuur en die negatiewe uitwerking daarvan.
Dit is daarom moeilik om in te sien hoe die departement van handel, nywerheid en mededinging se konsepbeleidsvoorstelle om die handel in skrootmetaal te reguleer en te beperk, enige verskil hieraan sal maak.
Die probleem is só groot dat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede vanjaar onderneem het om misdaad in dié bedryf te pak – veral die diefstal van koper en ander metaal wat van openbare infrastruktuur gesteel word.
Hierdie soort misdaad is uiters nadelig vir die land se infrastruktuur. Dit lei onder meer tot langdurige kragonderbrekings in woongebiede en nywerhede en lê spoorwegstelsels vir maande lam.
Koperdiefstal van die land se spoor- en elektrisiteitsnetwerk in 2020/21 het meer as R45 miljard beloop.
In 2020/21 is meer as R100 miljoen se staalomheinings gesteel. Selfs die staalstrukture vir hooflyn-kragstelsels word gevandaliseer wat wye kragonderbrekings tot gevolg het.
Die feit dat gesteelde koper, staal en ander metale deur verskeie prosesse gaan voordat dit hoofsaaklik oor die landsgrens uitgevoer word, maak dit moeilik om die totale proses te polisieer aangesien die handel in skrootmetaal 'n wettige bedryf is.
Die departement se voorgestelde maatreëls alleen kan nie die enigste oplossing wees nie en sal boonop onbedoelde gevolge hê. Almal in dié bedryf sal ly onder die gevolge van onder meer ‘n verbod van ses maande op die uitvoer van skrootmetaal. Dit herinner aan die gevolge van die Covid-19-inperking.
Soos met dwelms en diamante is die skrootmetaalbedryf duidelik uiters winsgewend en waar beperkings geplaas word, sal misdadigers innoverende wyses vind om dit te omseil.
‘n Permitstelsel vir die invoer van hoogoonde en verwerkingsmasjinerie word verwelkom. So ook die veel strenger registrasiestelsel vir skrootmetaal-handelaars wat onder meer strenger verklarings van hul bedrywighede vereis.
Van groter belang is dat Suid-Afrika dringend 'n effektiewe morele herlewingsprogram nodig het wat in elke skool, staatsdepartement en al drie sfere van die regering in werking gestel kan word.
Diefstal en korrupsie moet uitgeroei word. Dit kan net geskied met die rugsteun van ‘n effektiewe intelligensienetwerk en die nodige politieke wil.
Die belangrikste is daarom dat Suid-Afrika ‘n nuwe regering nodig het ná 2024.