fbpx
Vryheidsfront Plus

Immuniteit vir Grace Mugabe ondermyn die regstelsel

Indien dit waar is dat die Suid-Afrikaanse regering diplomatieke immuniteit aan Grace Mugabe toegestaan het, is dit nie net skandalig nie, maar ondermyn die regstelsel en laat die slagoffer in die steek, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê dit is ondenkbaar dat ‘n persoon ‘n misdryf in die land kan kom pleeg en dan net eenvoudig aanspraak maak op diplomatieke immuniteit.

“Indien diplomatieke immuniteit nie aan Grace Mugabe toegestaan is nie, en sy wel in Zimbabwe is, maak dit van die minister van polisie, Fikile Mbalula, ‘n gek. Hy het pertinent gesê dat alle grensposte en lughawens op die hoogste gereedheidsgrondslag geplaas is om te voorkom dat sy die land verlaat en dit sal beteken dat hy eintlik net lippediens aan die mense van Suid-Afrika lewer.

“Die toestaan van die immuniteit sal tot gevolg hê dat belastingbetalers se geld weereens gemors word op hofsake weens die onbevoegdheid van die regering wat nie die verantwoordelikheid wil aanvaar om sy land se burgers te beskerm nie.

“Dit is nou duidelik dat die Grace Mugabe-geval ‘n tweede Omar al-Basjir geval geword het. Die regering minag die reg en oortree die land se Grondwet wat ‘n verpligting op hom plaas om sy burgers se veiligheid te beskerm. In hierdie geval word die slagoffer nie beskerm nie.

“Korrupsie in Suid-Afrika gedy omdat oortreders nie gestraf word vir wandade nie. Die land word ‘n straffelose staat en hierdie strafloosheid is die kanker wat regverdigheid en dienslewering vernietig,” sê dr. Groenewald.

 

Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.