Leerlinge van ‘n oorvol Afrikaanse skool in Tulbagh moet in asbeskamers skoolgaan terwyl ‘n nuwe skool wat teen R71 miljoen net buite die dorp gebou is en slegs Xhosa en Engels as voertaal gebruik, half leeg staan aangesien die gemeenskap van Tulbagh oorwegend Afrikaanssprekend is.
Jaco Prins, die VF Plus se organiseerder in die Wes-Kaap, sê dat volgens die webwerf van die Wes-Kaapse onderwysdepartement is daar plek vir 1 250 leerlinge in die nuwe skool met sy meer as 28 verskillende klaskamers. Omdat daar egter so min Xhosa-sprekende leerlinge in en om Tulbagh is, is daar tans net sowat vyfhonderd leerlinge in die skool, en baie van hulle word met busse van elders aangery.
Prins sê daar is groot ongelukkigheid onder veral die bruin gemeenskap van Tulbagh. Hulle sê Afrikaanssprekendes maak 95% van die gemeenskap uit en dit die departement se eerste prioriteit moes wees om hul kinders uit die gevaarlike omstandighede van die asbesskool te verwyder.
Volgens die gemeenskap is baie beloftes oor die jare gemaak dat die asbesskool vervang sou word, maar dit het nooit gebeur nie. Daar is ook groot ongelukkigheid oor die Wes-Kaapse onderwysdepartement wat volgens die gemeenskap nie met hulle kommunikeer oor die aangeleentheid nie.
Prins sê dit is ‘n vermorsing van geld om so ‘n groot en duur skool vir uitsluitlik Xhosa- en Engelssprekendes te bou en ander leerlinge sodoende op grond van taal die reg te ontsê om daarvan gebruik te maak. Hy sê dit is ook totaal onaanvaarbaar dat leerlinge enigsins nog in ‘n asbes skool moet skoolgaan.
“Die VF Plus dring daarop aan dat die onderwysdepartement begin daad by woord voeg en behoorlik met Tulbagh se gemeenskap kommunikeer oor presies wanneer die twee nuwe Afrikaanse skole opgerig gaan word,” sê Prins.
Kontaknommer: 074 934 3664