Die vlaag van landwye plaasmoorde en -aanvalle, veral die afgelope paar weke, maak dit toenemend ‘n saak van dringendheid dat boere moet aansluit en inskakel by hul landbou-unies se veiligheidstelsels, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.
Luidens statistiek van die TLU SA, was daar vandeesmaand al 23 aanvalle waarin ses mense dood is, en 277 aanvalle die afgelope jaar waarin 55 mense dood is.
Dr. Groenewald sê hy gaan ‘n skrywe aan al die landbouorganisasies rig om ‘n bepaling te doen van hul finansiële en ander behoeftes soos toerusting ter beveiliging van boere, waarna hy die regering sal nader om finansiële ondersteuning te gee aan hierdie organisasies se ondersteuningstelsels.
“Indien die regering werklik ernstig is oor voedselsekerheid en die bekamping van plaasmoorde sal hy hierdie behoeftes moet begin steun aangesien die polisie se landelike veiligheidsplan duidelik nie die mas opkom nie.
“Die omstandighede op plase vereis dat boere en hul gesinne veiligheidstelsels vinnig moet kan aktiveer in die geval van ‘n aanval.
“Daar was al gevalle soos in Bothaville in die Vrystaat en Wolmaransstad in Noordwes waar bewys is dat hierdie stelsels baie doeltreffend is en waar plaasaanvallers in hegtenis geneem is voordat die inwoners leed aangedoen is.
“Ek doen daarom ‘n beroep op veral boere om aan te sluit by hierdie veiligheidstelsels. Ek doen ook ‘n beroep op politici, veral oor die grondkwessie, om hulle te weerhou van opruiende uitsprake wat gemoedere teen plaasboere kan beïnvloed,” sê dr. Groenewald.
Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216