Die hofuitspraak ten gunste van lt.kol. Renata Barnard en Solidariteit vandag in die appèlhof in Bloemfontein is ‘n stap in die regte rigting en kan ‘n sneeubal-effek hê in ander sake met rassediskriminasie as grondslag, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid.
“Hierdie uitspraak kan verreikende gevolge inhou vir baie wit en bruin mense in die land wat weens hy velkleur nie oorweeg word vir werk of bevordering nie. Daar is tans nog agt soortgelyke sake net in die SAPD wat gewag het op die uitspraak.
“Dit, tesame met die onlangse uitspraak in die DKD-saak in Kaapstad, wys dat die land se hoogste howe die rassistiese inslag van regstellende wette al hoe meer verwerp. Dit is 'n stap in die regte rigting om 'n meer regverdige arbeidsbedeling vir wit en bruin in Suid-Afrika te skep.
“Dit is juis weens rasse-wette soos die Wet op Gelyke Indiensneming dat minderhede in Suid-Afrika ekonomies al hoe swaarder kry. Daar moet nou werk gemaak word van die uitfasering daarvan,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403