Die Suid-Afrikaanse Lugdiens se dramatiese agteruitgang het begin toe die eens kerngesonde en winsgewende redery 20 jaar gelede aan sy eerste groot ‘regruk-aksie’ onder ‘n nuwe bedeling onderwerp is, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.
Volgens adv. Alberts het die SAL se program van regstellende aksie en gepaardgaande swak bestuur hom sedertdien van een krisis na ‘n ander, en van een regrukpoging na ‘n ander gelei.
Hy sê die regering pomp tans miljarde rande in die lugdiens om hom funksioneel te hou. Sedert 2002 bedra sy deurlopende verliese al R15 miljard. In die 2013-boekjaar is ‘n bedryfsverlies van R1 miljard gely.
“Die SAL se rassistiese aanstellingsbeleid het onder meer daartoe gelei dat wittes met kundigheid nie meer by die redery welkom is nie. ‘n Besoek aan die SAL se webwerf waar vakante poste geadverteer word, toon aan dat hoofsaaklik regstellende aksie-aanstellings steeds aan die orde van die dag is,” sê adv. Alberts.
Hy sê die lugdiens wat die ANC-regering 20 jaar gelede geërf het, was loshande die beste in Afrika, winsgewend, en het met verskeie internasionale toekennings gespog. Dit ondanks die uitdagings en beperkings van sanksies teen Suid-Afrika.
“Met die opheffing van sanksies was ‘n bloeitydperk te wagte toe internasionale vlugte vroeg in die jare negentig hervat is. Die teenoorgestelde het egter gebeur.
“Teen 1997 was die redery reeds in geldelike moeilikheid en ‘n omvattende herstruktureringsprogram is aangekondig waar onder meer die naam amptelik na Engels verander is.
“In 2007 is die redery skuldig bevind aan prysvasstelling en meer onlangs is hy gekritiseer oor sy beleid om geen wit persone as vlieëniers aan te stel of op te lei nie,” sê adv. Alberts.
Hy sê ‘n groot en eerlike regruk-aksie is nodig om die redery van ondergang te red en om sy reuse skuldlas te delg.
“Om dit te vermag moet die SAL onmiddellik afsien van sy rassistiese personeelbeleid en kundiges aanstel om die werk te doen. Dan sal ‘n reuse-personeel van onbevoegde mense nie nodig wees nie. Indien dit nie gedoen word nie wag ‘n noodlanding met moontlik tragiese gevolge,” sê adv. Alberts.
Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403