Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Hessequa se verkeersboete-teikens ondermyn padveiligheid

Die VF Plus neem met kommer kennis van die Hessequa-munisipaliteit se verkeersafdeling se amptelike prestasieteiken wat direk aan die geldwaarde van verkeersboetes gekoppel is.

Luidens die munisipaliteit se eie sleutelprestasie-aanwysers (SDBIP) moet R4 miljoen per kwartaal deur boetes ingevorder word.

Hierdie praktyk is onaanvaarbaar omdat verkeerswetstoepassing uitsluitlik op padveiligheid en die beskerming van padgebruikers gerig moet wees – nie op inkomste nie.

Inwoners kla ook toenemend dat beamptes buitensporig optree en die publiek ervaar dat finansiële teikens eerder as veiligheid die dryfkrag agter optrede is.

Wanneer prestasie aan ’n geldwaarde gekoppel word, ontstaan ’n botsing van belange: beamptes word indirek aangemoedig om soveel moontlik boetes uit te reik, eerder as om die ernstigste oortredings te prioritiseer.

Dit ondermyn openbare vertroue en verander verkeerspolisiëring van ’n veiligheidsfunksie na ’n inkomstegeneringsfunksie wat in stryd met die doel van die Nasionale Padverkeerswet.

Die VF Plus is van mening dat geen verkeersbeampte of departement onder druk geplaas behoort te word om ’n voorafbepaalde geldbedrag deur boetes te bereik nie.

Die munisipaliteit moet hierdie prestasievereiste onmiddellik hersien en alle finansiële invorderingsteikens uit die verkeersafdeling se sleutelresultaatgebiede verwyder.

Prestasie moet gemeet word aan sigbaarheid, die voorkoming van ongelukke en die verbetering van openbare veiligheid.

Inwoners van Hessequa verdien verkeerswetstoepassing wat uitsluitlik in belang van veiligheid geskied en nie een wat motoriste as ’n bron van inkomste beskou nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.