Die VF Plus is bekommerd oor die voorgestelde wysigings aan Kaapstad se munisipale beplanningsverordening van 2026. Hierdie wysigings ondermyn deursigtigheid en betekenisvolle openbare deelname.
Dit plaas ook ’n onregverdige verantwoordelikheid op inwoners wat eintlik by die stad self lê.
Openbare deelname in Kaapstad is reeds gebrekkig en word dikwels as ’n blote formaliteit beskou. In stede daarvan om deursigtigheid te verbeter, skuif die nuwe bepalings die las vir monitering en begrip van komplekse wetgewing direk op die publiek af.
Die VF Plus is veral bekommerd oor die nuwe artikel 95A, wat bepaal dat inwoners binne sewe dae kennis moet kan dra van ’n goedgekeurde bouplan nadat dit op die stad se webwerf gepubliseer is.
Dit is onprakties en onaanvaarbaar, aangesien dit die stad se verpligtinge verminder en die publiek dwing om voortdurend munisipale publikasies te monitor.
Verder is die vereenvoudiging van die definisie van ’n “omliggende eienaar” en die streng tydsbeperkings vir toegang tot inligting ’n ernstige bedreiging vir gemeenskapsorganisasies. Hierdie organisasies speel ’n sleutelrol in die beskerming van woonbuurte teen onbeheersde ontwikkeling, verkeersopeenhopings en die verlies van buurtkarakter.
Deur hul toegang tot inligting en beswaarmeganismes te beperk, word die gemeenskap se stem stilgemaak.
Die kort konsultasietydperk van slegs twee weke rakende die veranderings, wat boonop tydens ’n skoolvakansie plaasgevind het, is onaanvaarbaar. Dit toon duidelik dat die stad nie werklik belangstel in betekenisvolle openbare insette nie.
Die VF Plus doen ’n beroep op die Stad Kaapstad om hierdie wysigings te heroorweeg en ’n deursigtige, inklusiewe en geloofwaardige deelnameproses te verseker. Die toekoms van stedelike beplanning en die vertroue van inwoners hang daarvan af.


