Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Groot opwelling van steun vir VF Plus in KwaZulu-Natal

Die VF Plus beleef tans ‘n ongekende opwelling van steun in KwaZulu-Natal en die groei is sodanig dat die party beswaarlik kan voorbly met die aansluiting van nuwe lede.

Die party is besig om sy strukture in dié provinsie op groot skaal uit te brei en het die afgelope Saterdag tydens ‘n glansgeleentheid in die Bluff in Durban sy nuwe struktuur in die gebied bekend gestel.

Die geleentheid is bygewoon deur ‘n groot aantal inwoners wat kerklui, sakemanne en gemeenskapsleiers van die gebied ingesluit het.

Die VF Plus het die belangrikheid van die komende plaaslike regeringsverkiesing beklemtoon en het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om in groot getalle as kiesers te registreer om met hul stem broodnodige veranderings in plaaslike regering te bewerkstellig.

Die boodskap het daarop gefokus dat die ANC oor drie dekades sy tyd en kans gehad het om die land te regeer en dit sodanig opgemors het dat Suid-Afrika bykans totaal vernietig is.

Korrupsie, wanadministrasie, wanbestuur en totale onbevoegdheid het staatsinstellings vernietig en munisipaliteite laat verval in ‘n staat waar funksionaliteit en dienslewering tot ‘n stilstand gekom het.

Die VF Plus het dit sterk beklemtoon dat plaaslike regering waarlik plaaslik moet wees. Dit moet teruggeplaas word in die hande van gemeenskappe wat in beheer van hul eie sake geplaas moet word.

Daar moet weggedoen word met groot munisipaliteite en daar moet ‘n daadwerklik afwenteling van mag na die belastingbetalers in elke gemeenskap wees om eienaarskap te neem van sake wat hulle direk raak.

Dis ons tyd vir kleiner en effektiewe munisipaliteite. Alle gesag moet op die laagste moontlike vlak uitgeoefen word.

Die ANC se mislukkings het Suid-Afrika se ekonomie en die droom van ‘n verenigde en welvarende Suid-Afrika vernietig. Beleggers onttrek fondse, kundige mense verlaat die land en gewone mense betaal die prys.

Die VF Plus se groei regoor KwaZulu-Natal maak dit duidelik dat die party in dié provinsie is om te bly en nie sal weggaan of verdwyn nie.

Die VF Plus leef nie in die verlede nie maar in die toekoms. Die party bevorder gelyke regte vir alle gemeenskappe en wil Suid-Afrika herstel om ‘n beter toekoms vir almal tot stand te bring.

Daar moet teruggekeer word na verantwoordbare regering, veilige gemeenskappe, ekonomiese groei, selfbestuur en die beskerming van vryhede.

Die VF Plus se republikeinse waardes is nie ‘n poging om gister te herskep nie maar om ‘n beter môre te skep.

Suid-Afrika het genoeg gehad van uitgediende, selfvernietigende ideologieë wat misluk. Die tyd het aangebreek vir waardes en beginsels wat werk.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.