Die VF Plus se vele oproepe na die Tshwane-metro se departement van water en sanitasie het min opgelewer om die departement se aandag te vestig op ʼn groot gat op die hoek van Hartbeesspruit- en Richardstraat in Hatfield.
Die Tshwane-metro doen sedert 2024 herstelwerk aan die hoofwaterpyp. Die waterpyp is in 2025 vervang, maar waterlekkasies het steeds voorgekom waarna die gat nie behoorlike toegegooi is nie. Reën spoel dit telkens weer oop.
Hierdie gebied van Hatfield is naby aan die Universiteit van Pretoria wat beteken dat baie studente in die gebied woon en beweeg.
Die gat ontbloot ’n hoofwaterpyp en strek tot in die pad. Dit is só groot dat ’n bus daarin kan beland, terwyl twee voertuie nie veilig langs mekaar kan verbykom nie. Busse wat studente na die E.C. de Villiers-sportgronde vervoer, moet hier draai, en talle studente gebruik ook die straat.
Die gevaar word vererger weens die feit dat die gat gedeeltelik oor die ryvlak strek en geen versperrings of waarskuwingstekens aangebring is nie, ten spyte van die VF Plus se versoek vroeër vandeesmaand.
Die VF Plus doen ’n dringende beroep op die metro om onmiddellik veiligheidsheinings en waarskuwingstekens op te rig en om die gat behoorlik op te vul.
Daar mag nie gewag word totdat ʼn tragedie soos die een buite die Loftus Versfeld-stadion in Hatfield plaasvind nie.
Die Tshwane-metro dra ’n direkte verantwoordelikheid om die lewe van inwoners en studente te beskerm.
Elke dag wat hierdie gevaarlike gat oop bly, verhoog die risiko van ernstige ongelukke of selfs nog ’n noodlottige ongeluk.


