Die VF Plus het ’n dringende mosie by die Tshwane-metro ingedien ná die tragiese dood mnr. Hugo van der Berg wat Saterdagaand ná die Springbok-wedstryd in ’n gat op die sypaadjie voor die Javet-kunssentrum in Lynnwoodweg geval het.
Dit blyk dat die konstruksieterrein met die gat nie behoorlik omhein is nie.
Die mosie stel onder meer voor dat die raad sy meegevoel aan die familie betuig, ’n onafhanklike ondersoek doen en die verantwoordelike ingenieur en kontrakteur aanspreeklik hou.
Die kontrakteur moet op die swartlys geplaas en van toekomstige tenders uitgesluit word, die slagoffers of hul naasbestaandes moet vergoed word en die stadsbestuurder moet ’n volledige ouditverslag oor alle groot konstruksieprojekte aan die raad voorlê.
Verder moet die burgemeesterskomiteelid vir paaie en vervoer, Tlangi Mogale, binne sewe dae ’n verslag aan die raad voorlê oor administratiewe en toesigversuim, asook oor die dissiplinêre stappe teen nalatige amptenare of kontrakteurs.
Die voortgesette teenwoordigheid van oop en onafgesperde uitgrawings langs of in paaie is ’n ernstige skending van veiligheidstandaarde.
Die metro het ’n grondwetlike verpligting om die veiligheid van sy inwoners te verseker en die VF Plus sal hierdie saak met erns en vasberadenheid deursien totdat die verantwoordelike partye tot verantwoording geroep word.


