Die Arbeidshof se uitspraak wat die wettigheid van die tugstappe teen die sogenaamde Rooiwal-vyf bevestig, is ’n deurslaggewende keerpunt in die stryd teen korrupsie binne die Tshwane-metro.
Hierdie uitspraak bring ’n einde aan jare se vertragingstaktiek en politieke inmenging wat die dissiplinêre proses probeer kelder het.
Die hof het bevind dat die amptenare nie genoegsame bewyse kon lewer om die tugstappe te keer nie, en dat die dissiplinêre verhoor die regte forum was om kwessies van billikheid en prosedure te bepaal.
Die hofuitspraak bevestig dat die dissiplinêre optrede onder die vorige stadsbestuur, Johan Mettler, regmatig was.
Dit beteken dat die politieke viktimisasie van Mettler, wat korrupsie by Rooiwal wou uitroei, as onregmatig erken moet word. Sy integriteit en beginselvaste optrede verdien erkenning, eerder as die aanvalle wat hy moes verduur.
Verder moet die Tshwane-metro alle stappe neem om die finansiële verliese te verhaal van die Rooiwal-vyf, sowel as van Edwin Sodi en sy maatskappye.
Dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers die prys betaal vir ’n korrupte tender van R300 miljoen wat tot miljarde se skade aan infrastruktuur gelei het. Die verantwoordelike partye moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die verwoesting wat hulle gesaai het.
Die hofuitspraak ontbloot ook die berekende pogings van die ANC- en EFF-koalisie om die Rooiwal-vyf te beskerm en Mettler te verwyder. Hierdie politieke inmenging het nie die metro gedien nie, maar het dienslewering verder in ’n krisis gedompel.
Hierdie korrupte beskerming moet beëindig word ten einde Tshwane te bevry van die houvas van politieke opportuniste wat die metro se belange opoffer vir eie gewin.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen totdat die verantwoordelike amptenare en kontrakteurs tot verantwoording geroep word.
Op 4 November het inwoners die geleentheid om vir die VF Plus te stem om ’n einde te maak aan wanbestuur, om korrupsie daadwerklik te beveg en om ’n metro te bou waar integriteit en dienslewering eerste kom.


