Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Groen Skerpioene in Kimberley kort meer angel

Die groen skerpioene kort meer angel – veral in Kimberley.

‘n Oorsigbesoek van die VF Plus gister aan die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake en grondhervorming oor onder meer ‘n probleem met die smokkel van skaars plante, het talle probleme uitgewys. Die grootste is ‘n kritieke tekort aan mannekrag.

Die VF Plus wou met sy besoek vasstel wat van plantjies geword het wat smokkelaars onwettig uit Namakwaland verwyder het en wat ná polisieoptrede by die Groen Skerpioene beland het.

Die VF Plus se afvaardiging het bestaan uit Theo Joubert, LPW; Kobus van den Berg en Wynand Boshoff, LP’s wat onderskeidelik in die nasionale raad van provinsies (NR) en nasionale vergadering (NV) vir die departement verantwoordelik is en en Wilhelm Reichert, provinsiale bestuurder van die VF Plus wat talle omgewingsklagtes hanteer.

Die hoof van korporatiewe dienste, mnr. Thabang Sebono, asook die hoof van voldoening en wetstoepassing, mnr. O.T. Gaoraelwe, het die departement se beperkings uitgewys.

Volgens hulle is onderbefondsing die rede dat talle poste waarvoor voorsiening gemaak is, vakant is. Daar is net een ondersoeker wat die uitgestrekte provinsie moet dek wat behoorlike wetstoepassing onmoontlik maak.

Koördinering tussen provinsiale en nasionale departemente wat met water en besoedeling gemoeid is, is ook ‘n probleem.

Dit is vir die publiek moeilik om omgewingsoortredings aan te meld, aangesien verskeie departemente agentskappe het wat verskillende soorte oortredings ondersoek. Aanmeldingspunte is ook nie opsigtelik of maklik om te bereik nie.

Smokkelplante vanuit Namakwaland is ‘n groot probleem. Dit is gesog in Asiatiese lande en enkele kartonhouers met plantjies kan tot ‘n miljoen rand vir smokkelaars werd wees.

Selfs wanneer daar beslag gelê word op plante, skep die hervestiging daarvan probleme.

Die plante kan om twee redes nie herplant word nie: Die departement beskik nie oor geskikte kwekerygeriewe daarvoor nie en die polisie en howe dring daarop aan dat die plantmateriaal as bewysstukke beskikbaar moet wees totdat hofsake afgehandel is. Dit kan soms jare duur.

Met die besoek van die VF Plus is plastieksakke met plante uitgewys wat vir ondersoekdoeleindes gehou word en wat reeds verrot het.

Wat die meeste kommer wek, is dat die VF Plus ‘n navraag aan die minister van bosbou, visserye en die omgewing, dr. Dion George, gerig het nadat die party van die houers met plante verneem het.

Hy het laat weet dat dit ‘n gerug is wat op ‘n misverstand berus, aangesien sulke houers nie bestaan nie.

Gaoraelwe het daarop gewys dat sy kantoor nie so ‘n navraag hanteer het nie. Die VF Plus het intussen die minister laat weet wat met die oorsigbesoek gevind is.

Die VF Plus beskou die saak in ‘n ernstige lig en beter koördinering tussen wetstoepassingsagentskappe is noodsaaklik. Sowel die ontvangs en hantering van klagtes, as die hantering van biologiese bewysstukke moet meer doeltreffend wees.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.