fbpx
Vryheidsfront Plus

Grace Mugabe moenie nog ‘n Al-Basjir-geval word nie

Die Grace Mugabe-voorval moenie ‘n tweede Omar al-Basjir geval word waar sy toegelaat word om die land te verlaat ten spyte van strafregtelike klagtes teen haar nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Volgens dr. Groenewald het die waarnemende polisiekommissaris, lt.genl. L.J.Mothiba, gister by die polisie se parlementere portefeuljekomitee op ‘n vraag van hom gesê dat mev. Mugabe steeds in Suid-Afrika is en dat haar regsverteenwoordigers “onderneem het” dat sy haarself sal oorgee.

“Ek wou die versekering by die generaal hê dat sy nie die land sal verlaat nie. Dit is maklik uitvoerbaar deur die grensposte en lughawens opdrag te gee dat sy nie die land mag verlaat nie.

“Genl. Mothiba het onderneem om dit te doen en daarom verwelkom ek die aankondiging van die minister van polisie, Fikile Mbalula, dat alle grensposte en lughawens nou wel op die hoogste vlak van gereedheid geplaas is om seker te maak sy verlaat nie die land nie.

“Ek is wel bekommerd daaroor dat sy die land nie noodwendig deur die amptelike grensposte of lughawens sal verlaat nie, maat dit moontlik is dat sy in ‘n private vliegtuig of selfs van Waterkloof toegelaat kan word om land te verlaat.

“Indien dit gebeur, sal diegene wat dit toegelaat het, aangekla moet word van dwarsboming van die gereg.

“Die minister moet ons die versekering gee dat alles moontlik gedoen word om dit voorkom dat sy die land verlaat en moet seker maak dat sy verantwoording doen vir haar optrede in Suid-Afrika. Suid-Afrika is nie ‘n tweede Zimbabwe nie, tensy ons vinnig op pad is om een te word,” sê dr. Groenewald.

Kontaknommers: 083 627 4397 / 083 419 5403

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.