Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Govan Mbeki-waterkrisis: Rasse-aantygings in stede van oplossings

Die jongste raadsitting van die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit het weer getoon hoe leierskap faal terwyl inwoners ‘n ernstige waterkrisis ervaar.

In stede van konkrete oplossings oor die waterprobleem het rasse-aantygings en politieke speletjies die debat oorheers.

Die EFF-raadslid, Dan Khoza, het beweer dat wit inwoners in die galery hom intimideer – terwyl dit hoofsaaklik bejaardes was wat bloot antwoorde oor water wou hê.

Om ras in te sleep terwyl gemeenskappe sonder water sit, is kortsigtig, onverantwoordelik en verdelend. Watertekorte tref almal, ongeag kleur.

In Bethal, een van die ergste getrefde gebiede, sit inwoners al langer as 50 dae sonder betroubare watertoevoer. Reservoirs soos Bethal Rand en Van Heerden is leeg of byna leeg (0–5%), en hoëliggende dele kry geen water nie.

Uit desperaatheid het gemeenskappe al opgeruk en selfs simbolies in plasse gebad om aandag te trek. Tog is daar steeds geen vaste hersteldatum nie en selfs wanneer Rand Water druk verhoog, neem dit dae voordat die stelsel tydelik herstel. Hierdie volgehoue ontbering is onaanvaarbaar en ’n skending van basiese menseregte.

Die burgemeester, Nhlakanipho Zuma, het bevestig dat Rand Water water wisselvallig pomp. Gistermiddag is daar weer sonder vaste skedule opgehou pomp. Dit is uiters ontwrigtend vir inwoners en dompel hulle in onsekerheid.

Die munisipaliteit voldoen sedert November-Desember 2023 aan betalingsreëlings met Rand Water, maar betalings alleen los nie die krisis op nie. Daar is nou ʼn noodplan en sigbare leierskap nodig.

Navorsing oor oor alternatiewe waterbronne word eers in Maart bespreek. Intussen moet gesinne en ondernemings staatmaak op ongereelde watertenkers sonder duidelike skedule.

Die munisipaliteit beweer daar is geen geld vir ekstra watertenkwaens nie, terwyl die raad die 2025/2026-operasionele inkomste-begroting van R3.3359 miljard na R3.410 miljard verhoog het. Dit wek ernstige vrae oor prioriteite.

Inwoners verdien oplossings, nie verskonings en rasse-aantygings nie. Daar moet nou ’n duidelike openbare watervoorsieningskedule wees, saam met deursigtige kommunikasie van die munisipaliteit en Rand Water.

Verder is ’n dringende versnelling van beplanning vir alternatiewe waterbronne noodsaaklik, terwyl streng aanspreeklikheid verseker moet word sodat inwoners nie langer in die duister gelaat word nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.