Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Govan Mbeki: Afgradering lank reeds op kaarte weens munisipale wanbestuur

Die afgradering van die Govan Mbeki-plaaslike munisipaliteit (Bethal, Charl Cilliers, Embalenhle, Evander, Kinross, Leandra, Secunda, Trichardt) van vlak vyf na vlak vier was lank reeds te wagte vanweë die ANC-regering se jare lange wanbestuur en korrupsie.

Die VF Plus wys lank reeds op die wanbestuur van fondse en ‘n laksheid om dit reg te stel.

Die afgradering deur die ouditeur-generaal (OG) beteken dit word ‘n hoë risiko-munisipaliteit met verhoogde befondsingskostes. Dit gaan ook raadslede se salarisse raak.

Raadslede wat op 1 Julie verlede jaar by die munisipaliteit aangesluit het, sal nou volgens graad 4 vergoed word.

Daar is onder die huidige omstandighede nie meer ‘n kans dat die ekonomie kan groei nie. Die munisipaliteit is reeds in ‘n tegniese resessie met groeiende werkloosheid en dié afgradering voorspel niks goed vir die toekoms nie.

Die munisipaliteit het verlede maand sy derde agtereenvolgende gekwalifiseerde ouditmening van die kantoor van die OG met bevindings ontvang.

Die burgemeester, mnr. Nhlakanipho Zuma, het die middeltermyn-prestasieverslag tydens ‘n raadsitting voorgelê en aan die raad gesê die munisipaliteit het suksesvol aansoek gedoen vir ‘n rampfondsoordrag om sy begrotingsaanpassing te bevorder.

Hy het tydens die voorlegging van die Eskom- en Randwater-rekeninge gesê die munisipaliteit het R34,5 miljoen aan Eskom en R32,5 miljoen aan Randwater betaal.

Ten spyte van hierdie betalings het mnr. Zuma erken dat die munisipaliteit nie voldoende inkomste kon genereer nie. Gevolglik sal ‘n aanpassing aan die begroting nodig wees.

Dit maak dit nou van die allergrootste belang om ingrypende veranderings te doen om fiskale beleid en dissipline te verbeter.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die rekenpligtige beampte, mnr. Elliot Maseko en mnr. Zuma om die kritieke kwessie van onvoldoende inkomste-invordering dringend aan te spreek.

Die aanstelling van permanente raadslede sonder die nodige ondervinding het ook grootliks bygedra tot die munisipaliteit se afgradering.

Die aanstelling van individue in gesagsposisies sonder voldoende kundigheid kan lei tot oneffektiewe besluitneming, veral wanneer daar saam met gekwalifiseerde werknemers in kritieke departemente soos finansies gewerk word.

Effektiewe toesig en samewerking tussen raadslede, amptenare en komitees is nou noodsaaklik vir die verbetering van inkomste-invordering en om te verseker dat die munisipaliteit se begroting doeltreffend aangewend word om gehalte dienste aan die gemeenskap te lewer.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.