fbpx
Vryheidsfront Plus

Geweldpleging tydens taxi-staking mag nie geduld word nie

Geweldpleging tydens stakings, soos met vandag se taxi-staking in Kaapstad waar Golden Arrow-passasiersbusse aan die brand gesteek is, is onaanvaarbaar en mag nie geduld word nie.

Mense het wel die reg om te staak en die VF Plus respekteer dit, maar selfs wettige stakings sonder geweld maak geweldige inbreek op die lewe en vryheid van beweging van wetsgehoorsame mense.

Wanneer dit in geweld ontaard en paaie word doelbewus versper om mense in hul eie stad gevange te hou, skep dit ʼn gevaar vir almal, ook vir taxi-pendelaars wat by die huis en die werk moet kom.

Die staking in Kaapstad volg op ʼn konfliksituasie wat eergister (Dinsdag 1 Augustus) ontstaan het op die Kaapstadse stasiedek. Die rede is glo die afdwinging van die Stad Kaapstad se verkeerswette waartydens beslag gelê is op ʼn taxi.

Daar heers tans ʼn kultuur van wetteloosheid in Suid-Afrika met geen respek vir bestaande wette en mense se veiligheid nie.

Dit is daarom goed om billike wette te hê en dit streng toe te pas soos nou in Kaapstad, maar dan moet die wetstoepassers seker maak hulle is in staat om die reaksie wat daarop volg, te beheer.

Veral met optrede teen taxi’s moet ʼn teenreaksie soos hierdie voorsien en daarvoor beplan word.

Die VF Plus het by die Stad Kaapstad en die polisie aangedring op die maksimale ontplooiing van hulpbronne om enige verdere onwettige geweldpleging te voorkom.

Dit kan gedoen word deur effektiewe wetstoepassing en om diegene wat hulle skuldig maak aan misdadige gedrag, sonder meer in hegtenis te neem.

Die mense van Kaapstad verdien nie enige optrede wat lewensbedreigend is en hul menseregte skend nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.