Die VF Plus het ‘n dringende skrywe gerig aan Mpumalanga se LUR vir openbare werke, paaie en vervoer, Mohita Latchminarain, om in te gryp en ‘n einde te maak aan die gewelddadige betogings waaronder Pelgrimsrus die afgelope dae deurloop.
Die gewelddadige betogings van ‘n ontevrede plaaslike gemeenskap in Pelgrimsrus weens ‘n beloofde goudmyn wat nog nie operasioneel is nie, kan dié dorp se brose ekonomie verder knou.
Volgens die gemeenskapslede sal die beplande goudmyn van Theta Gold Mines broodnodige werksgeleenthede meebring. Finale goedkeuring vir die myn is egter nog nie afgehandel nie.
Theta Gold Mines het die afgelope vyf jaar reeds sowat R221 miljoen in Pelgrimsrus belê.
Pelgrimsrus is hoofsaaklik afhanklik van toerisme en die betogings kan veroorsaak dat toeriste se getalle afneem en toeroperateurs dié dorp as deel van hul toerprogramme kan verwyder.
Pelgrimsrus is deel van die Thaba Chweu-plaaslike munisipaliteit (Graskop, Lydenburg, Mashishing, Pilgrimrus, Sabie), maar Mpumalanga se departement openbare werke, paaie en vervoer is verantwoordelik vir die bestuur van die dorp.
'n Paar jaar gelede is dié historiese dorp sy beeld reeds geknou weens ernstige wanbestuur.
In 2012 het die departement eensydig sakelui van die historiese dorp se huurkontrakte opgeskort en 30 dae tyd gegun om hul winkels te ontruim. Nuwe kontrakte is glo teen uiters lae huurgeld aan nuwe huurders toegeken.
Die VF Plus het ‘n klag hieroor ingedien by die openbare beskermer (OB) wat bevind het dat die tenderproses onregmatig was en het die departement beveel om die proses van nuuts af te begin.
Die huidige betogings bedreig bestaande werksgeleenthede, kan werkloosheid verder die hoogte laat inskiet en Pelgrimsrus op ‘n glybaan van totale verval plaas.