Die getuienis voor die Madlanga-kommissie rakende bewerings van politieke inmenging in ʼn sekuriteitstender in die Tshwane-metro is uiters kommerwekkend en kon voorkom gewees het.
Tydens die VF Plus se beheer van die gemeenskapsveiligheidsportefeulje, is ’n tegnologie-gedrewe sekuriteitsmodel gevolg wat minder afhanklik was van statiese wagte en meer gefokus het op koste-effektiewe oplossings soos moderne tegnologie.
Hierdie benadering het effektiewe sekuriteit teen laer koste vir belastingbetalers verseker.
Die huidige administrasie het ’n ander verkrygingspad gevolg, wat nou in die getuienis ter sprake kom.
Getuienis van sersant Fannie Nkosi van die polisie het Whatsapp-boodskappe en ander materiaal blootgelê wat verband hou met pogings om die toekenning van ’n multimiljoen rand-sekuriteitstender vir die Tshwane-metropolisie (TMPD) te beïnvloed.
Dit sluit lyste van voorkeurmaatskappye in, oënskynlik afkomstig van die EFF, asook koördinering met die hoof finansiële beampte van die metro, Gareth Mnisi.
Daar was ook verwysings na verteenwoordigers van ActionSA en die EFF in Nkosi se getuienis en dat die TMPD se adjunkhoof, Umashi Dlamini, na bewering ’n rol gespeel het in die verspreiding van hierdie lyste.
Daar bestaan tans ook teenstrydighede in die hantering van ’n verslag oor die metro se hoof finansiële beampte in die metroraad waar ActionSA en die EFF huiwer om ʼn verslag oor hom ter tafel te lê en druk op die ANC plaas om dit te doen.
Hierdie situasie bring ’n kernvraag na vore: Gaan dit werklik oor aanspreeklikheid en integriteit, of weerspieël dit ’n politieke magstryd tussen partye om beheer oor openbare fondse?
Die VF Plus het ’n rekord van deursigtige en gedissiplineerde fiskale bestuur in die gemeenskapsveiligheidsportefeulje, sonder die skep van krisisse of manipulering van verslae vir eie belang.
Die VF Plus het ’n dringende mosie by die speaker van die Tshwane-metro, Mncedi Ndzwanana, ingedien waarin versoek word dat die reëls- en etiekkomitee ’n ondersoek instel na die hoof finansiële beampte, sowel as na bewerings van politieke inmenging in die tenderproses
Die inwoners van Tshwane verdien ’n administrasie wat integriteit handhaaf en openbare fondse verantwoordelik bestuur.
Verdere ondersoeke alleen los nie die onderliggende probleme op nie.
Die oplossing lê in ’n regeringsverandering waar die VF Plus betekenisvolle insae sal hê om deursigtigheid, aanspreeklikheid en dienslewering te herstel.


