fbpx
Vryheidsfront Plus

Gesprek tussen VF Plus, Gautengse premier en polisie oor misdaad en plaasmoorde lei tot aksie

‘n Gesprek tussen die VF Plus en die leierskap van Gauteng oor misdaad en plaasmoorde het ‘n positiewe uitvloeisel gehad en daadwerklike planne van die VF Plus om die probleme met gesamentlike aksies aan te spreek, is in beginsel aanvaar en die onderneming is van regeringskant gegee dat dit so uitgevoer gaan word.

Die VF Plus is verteenwoordig deur dr. Pieter Groenewald, leier van die party, en mnr. Philip van Staden, VF Plus-LPW vir Gauteng. Die premier van Gauteng, mnr. David Makhura, is vergesel van die provinsie se LUR vir gemeenskapsveiligheid, me. Sizakele Emelda Nkosi-Malobane, asook ‘n senior polisiebestuurspan wat die adjunk-provinsiale kommissaris ingesluit het.

Die VF Plus het onder meer voorgestel dat die publiek betrek word by ‘n skakelkomitee tussen die gemeenskap, die premier se kantoor en die LUR om sodoende ‘n breë front teen misdaad te vorm.

Die LUR het hiertoe ingestem en bevestig dat dit deel van haar toekomstige misdaadbestrydingsstrategie sal vorm.

In nog ‘n belangrike stap het die premier saamgestem dat spesiale eenhede nodig is om landelike beveiliging doeltreffend toe te pas en dat spesiale aandag gegee moet word aan brandpunte soos Muldersdrif en Kameeldrift.

Die premier het ook bevestig hy verstaan waarom die VF Plus groot klem op landelike beveiliging lê aangesien hy die belangrikheid van voedselsekerheid deeglik besef.

Me. Nkosi-Malobane het gevra dat die gesprek reeds in Januarie 2018 hervat word waar die VF Plus insette op die tafel sal plaas om uitvoering aan die voorstelle te gee om sodoende misdaad en plaasmoorde in die provinsie suksesvol te bekamp.

Daar is ook ooreengekom dat al die betrokke partye wyd sal konsulteer met die gemeenskap op grondvlak om hul insette oor die aangeleentheid te verkry.

"Vandag se vergadering was uiters positief. Ons almal is dit eens dat dinge nie kan aangaan soos wat tans die geval is nie en dat ons as leiers die verantwoordelikheid moet neem om werkbare planne op die tafel te plaas in belang van die publiek se veiligheid.

“Misdaad, en veral moord is 'n groot probleem en het 'n uiters negatiewe uitwerking op almal se lewe. Dit is tyd vir ons as leiers, aan beide kante van die tafel, om op te tree en aksie te neem,” het dr. Groenewald en mnr. Van Staden na die gesprek gesê.

Kontaknommers:
Dr. Pieter Groenewald: 083 627 4397 / 065 801 7216

Mnr. Philip van Staden: 084 0154 722

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.