Die VF Plus het sterk beswaar aangeteken teen die R9,3 miljoen se salarisgeld wat die Tshwane-metro vanaf Julie tot Desember 2024 betaal het aan 43 geskorste amptenare wie se dissiplinêre verhore nog hangende is.
Die maksimum skorsingstydperk in terme van die metro se diensvoorwaardes is drie maande met volle betaling met ʼn moontlike verlenging van ʼn verdere drie maande indien nodig.
Tans is 51 amptenare geskors waarvan 41 se drie maande met volle betaling reeds oorskry is.
Die VF Plus wou weet wat die vertraging veroorsaak in die dissiplinêre verhore van die amptenare en wanneer die sake afgehandel gaan wees.
Luidens ʼn verslag (watse verslag) wat voor die raad gedien het, is daar ook al 109 ander sake teen amptenare geregistreer wat met bedrog en korrupsie verband hou.
Om amptenare wat verdink word van bedrog en korrupsie in hul poste te laat aanbly, kan omvattende gevolge vir die metro inhou en ook die ondersoeke vertraag.
Vertragings in dissiplinêre optrede verswak goeie bestuur en aanspreeklikheid.
Die VF Plus het ‘n dringende beroep op die metro gedoen om dissiplinêre verhore te prioritiseer en te finaliseer om verdere finansiële vermorsing te voorkom en aanspreeklikheid te verseker.
Dit is onaanvaarbaar dat dissiplinêre verhore maande sloer en belastingbetalers se swaarverdiende geld daarvoor moet betaal.